|

AfriForum dien kommentaar in teen katastrofiese NGV wetsontwerp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag geskrewe kommentaar by die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ingedien om die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wetsontwerp te verwerp. Die oorspronklike afsnydatum vir publieke kommentaar is verleng tot 15 September 2023.

AfriForum het met hierdie kommentaar sy stem gevoeg by dié van ’n groeiende aantal rolspelers in die gesondheidsbedryf, sowel as lede van mediesefondse wat die vernietigende potensiële gevolge sien wat hierdie wetsontwerp kan veroorsaak en openbare druk teen die aanvaarding daarvan voor die NRP verhoog. AfriForum se geskrewe kommentaar is gegrond op deeglike navorsing en neem die unieke uitdagings vir gesondheidsorgvoorsiening in Suid-Afrika in ag.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die organisasie bekommerd oor die regering se begeerte om gesondheidsorg nog verder te sentraliseer. “Ons is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid en kritieke besonderhede rondom die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringskema. Ten spyte van jare se besprekings en beleidsdokumente is Suid-Afrikaners steeds in die duister oor sleutelaspekte soos koste, befondsingsbronne en implementeringstrategie. Dit laat ernstige vrae ontstaan ​​oor die ware motiewe agter die NGV.”

AfriForum se standpunt oor die NGV is gegrond op verskeie sleutelkwessies, soos onduidelikheid, beperkte fiskale kapasiteit, grondwetlike oortredings, verdere sentralisering van mag in die hande van die staat en burokratiese inmenging. Die organisasie is ook gereed om voort te gaan om die wetsontwerp op alle moontlike maniere teen te staan ​​sou dit voor die NRP slaag.

“Ons primêre bekommernis is dat die NGV waarskynlik in ’n baie duur mislukking sal ontaard wat nie die kwaliteit van gesondheidsorg of toeganklikheid vir die Suid-Afrikaanse bevolking sal verbeter nie. Die NGV sal ook die grondwetlike regte van miljoene Suid-Afrikaners skend deur hulle te dwing om staat te maak op ’n gesondheidsorgplan wat van die begin af gedoem was om te misluk en die gebruik van private alternatiewe verbied,” sê Boshoff.

AfriForum doen ’n beroep op belanghebbende partye om voor 15 September 2023 hul skriftelike kommentaar aan die NRP te stuur. Volgens AfriForum is openbare deelname van kardinale belang om te verseker dat wetgewing in lyn is met die werklike behoeftes van Suid-Afrikaners.

Lede van die publiek kan hulle kommentaar teen die NGV wetsontwerp by www.jougesondheid.co.za indien.

Soortgelyke plasings