|

Dudula-betoging eindig vreedsaam danksy AfriForum se hulp

Die AfriForum-buurtwag in Bethlehem het op 7 April die SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) gehelp om orde op dié dorp te handhaaf tydens ’n betoging van Operasie Dudula. Zandile Dabula, die president van Operasie Dudula, het die gemeenskap van Bohlokong en omliggende gebiede genader om die bekendstelling van dié beweging by te woon deur middel van ’n betoging na ’n vergadering in Bohlokong New Hall. Die vergadering was daarop gemik om steun te werf vir die organisasie. Daar was hoofsaaklik op die jeug van Bohlokong gefokus, asook om die gemeenskap op te sweep om standpunt in te neem teen onwettige immigrante en die probleme wat daarmee gepaardgaan.

Dit was ’n baie plofbare situasie en daar was gereeld dreigemente van Operasie Dudula se lede dat hulle huise aan die brand gaan steek. 

Alle nodige rolspelers, waaronder die AfriForum-buurtwag, was ontplooi om die SAPD te help.

Buurtwaglede was op strategiese punte ontplooi en inligting is voortdurend aan lede van die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) deurgegee om kommunikasie tussen lede op voetsoolvlak en GOS-bevelvoerders te vergemaklik.

AfriForum se hommeltuig is ingespan en die vlieënier, Ian van Straaten, wat ook die buurtwagleier in Bethlehem is, tesame met die plaaslike AfriForum-protospan, het inligting direk aan die GOS gekommunikeer.

“Elke moontlike gevaarsituasie is onmiddellik hanteer en geëlimineer. Danksy die bekwame toegewydheid van AfriForum se buurtwagspan in samewerking met ander rolspelers, is die optog met groot sukses hanteer. Teen 19:00 kon die SAPD se openbare orde-polisie -eenhede daarin slaag om Zandile Dabula te oorreed om die gebied vreedsaam te verlaat,” sê Christa Ikking, distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Soortgelyke plasings