|

Heilbron-tak spreek bestuurder aan oor toestand van ou begraafplaas

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 22 April ’n prokureursbrief en ’n aanmaning aan Francis Moeketsi, die bestuurder in Heilbron, laat beteken. Dit het aan die lig gekom dat daar steeds afgestorwenes in die ou begraafplaas begrawe word, nadat dit reeds in 2007 as vol verklaar is. Moeketsi is ook deur die burgemeester van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, Victoria de Beer, belet om weer afgestorwenes in hierdie begraafplaas te begrawe, maar daarna is ten minste nog vier mense daar begrawe.  

Afgestorwenes word tans in die bestaande paadjies, wat vir ’n spesifieke doel in die begraafplaas is, begrawe. Dit het tot gevolg dat die grafte wat mense jare gelede gekoop het ontoeganklik geword het, omdat ’n lykswa nie naby dié grafte kan stilhou nie. Met die baie reёn gedurende die afgelope reënseisoen het die konsentrasiekampgrafte ook oorstroom omdat die onwettige grafte walle vorm en die water nie kan wegvloei nie. Indien die munisipaliteit voortgaan om afgestorwenes onwettig in die begraafplaas te begrawe, sal verdere stappe teen hulle gedoen word.

“Ek het vir Moeketsi en De Beer gewaarsku dat ons regstappe sal neem as daar weer afgestorwenes onwettig begrawe word. Dit is ons plig om ons erfenis en geskiedenis te bewaar,” sê Gerrie Muller, voorsitter van die Heilbron-tak.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is dit onaanvaarbaar dat die begraafplaas so misbruik word en bestaande grafte geskend word.

“Daar is ’n nuwe begraafplaas wat gebruik kan word. Ons sal nie toelaat dat ons erfenis en geskiedenis so verwoes word nie,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings