|

AfriForum bestee R85 000 om slaggate voor Pretoriase laerskool te herstel

Die Laerskool Anton van Wouw in Nieuw Muckleneuk, Pretoria, sukkel al geruime tyd om die straat voor die skool deur amptelike munisipale kanale herstel te kry. Deystraat het oor die jare vervalle geword en was deurspek met slaggate wat ’n ernstige gevaar vir die leerders van die skool, hul ouers, onderwysers en ander padgebruikers ingehou het. AfriForum het dus besluit om dié pad op 23 en 24 November te herstel.

15 ton teer is gebruik om ’n oppervlak van 154 m2 te herstel. Die projek het ongeveer R85 000 gekos. Volgens Chris Henning, skoolhoof van Laerskool Anton van Wouw, was die straat in ’n haglike toestand en pogings van die skool om herstelwerk gedoen te kry, het op dowe ore geval.

“Die veiligheid van ons kinders is nie onderhandelbaar nie. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat AfriForum aan die Laerskool Anton van Wouw bied. AfriForum se betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap is van groot waarde,” sê Henning.

AfriForum het 15 ton gebruik om slaggate voor die Laerskool Anton van Wouw teen ’n koste van nagenoeg
R85 000 te herstel.

“Dit is vir ons ’n voorreg om die Laerskool Anton van Wouw te kon help in dié verband en sodoende die waarde van selfdoen te beklemtoon,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Kleiner dorpe in Suid-Afrika loop al jare lank deur onder munisipale verval, maar groot stede is lankal nie meer immuun teen soortgelyke probleme nie. Die munisipale staking in die Tshwane-metro het ook die afgelope maande chaos in Pretoria veroorsaak toe dienste in sekere omgewings tot ’n stilstand gekom het.

AfriForum het vanjaar in Pretoria met verskeie projekte ingegryp om verval te stuit. Die organisasie het vroeër vanjaar slaggate in Menlopark herstel en vullis is met behulp van kontrakteurs weggery toe dit tydens die munisipale staking begin ophoop het.

“Ons beoog om nog baie van hierdie soort projekte van stapel te stuur. Ons moedig gemeenskappe aan om by AfriForum se strukture in te skakel. Sodoende sal dit ons in staat stel om meer projekte aan te pak wat ’n verskil kan maak,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Soortgelyke plasings