|

Beduidende aantal polisielede dalk “onbevoeg” om vuurwapens te hanteer – AfriForum eis antwoorde

Die burgerregteorganisasie AfriForum het inligting bekom wat daarop dui dat ’n beduidende aantal Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)-lede moontlik tans, kragtens die Vuurwapenwet se regulasies, “onbevoeg” is om vuurwapens te hanteer. Regulasie 79 van dié wet is drie jaar gelede aangepas en verslap. Sedertdien hoef polisielede net een keer elke vyf jaar vir vuurwapenbevoegdheid getoets te word, in plaas van die een keer elke twaalf maande soos wat voorheen voorgeskryf is. Dit blyk egter dat die polisie nie eens hierdie aangepaste regulasie kan nakom nie.

AfriForum het daarom vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die SAPD gestuur waarin gedetailleerde inligting oor die huidige vuurwapenbevoegdheid van polisielede sowel as die verstryking van lede se bevoegdheidsertifikate versoek word.

Volgens inligting in AfriForum se besit, het verskeie polisielede se beroep op die nakoming van die vasgestelde bevoegdheidsvereistes aan polisiebestuur op dowe ore geval. Die versoeke is geïgnoreer en ’n tekort aan ammunisie is as verskoning aangevoer. Ironies genoeg is dieselfde rede ook in 2020 aangevoer in die versoek vir die aanpassing van die Vuurwapenwet se regulasies toe die voorgeskrewe hernuwing van bevoegdheid aangepas is. Destyds is polisielede wat die vaardigheidstoets dop ook as rede vir die verlenging van die hernieuwingstydperk aangegee.

Die beweerde finansiële beperkings en duidelike elemente van wanadministrasie binne die SAPD, veral met betrekking tot die verkryging van ammunisie, laat ernstige vrae ontstaan ​​oor die doeltreffendheid van dié wetstoepassingsagentskap en die vermoë van SAPD-beamptes om hul pligte veilig en bekwaam uit te voer.

“Dit kom daarop neer dat polisiebestuur sommige beamptes dwing om vuurwapens onwettig te dra en te hanteer. Dit is uiters ironies – aan die een kant het jy ’n polisieminister wat gedurig wettige vuurwapeneienaars blameer vir wapengeweld in die land, maar sy eie beamptes maak hul skuldig aan onwettige gedrag,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Hierdie is maar net een van die talle voorbeelde waar die polisie se topstrukture weer die eerlike en toegewyde SAPD-lede op grondvlak, wat steeds probeer om hul werk doeltreffend en volgens die boek te doen, in die steek laat,” sluit Broodryk af.

Die SAPD het nou 30 dae om aan AfriForum se versoek gehoor te gee.

Soortgelyke plasings