| | |

AFRIFORUM BETROKKE BY SIGBAARHEIDSPATROLLIES OOR DIE FEESSEISOEN

AfriForum het vanaf 16 Desember 2020 tot en met 10 Januarie 2021 in die Noord-, Oos-, Suid- en Wes-Kaap hoë sigbaarheidspatrollies uitgevoer. Die doel van hierdie tipe patrollies is om hoë sigbaarheid in gemeenskappe te handhaaf, veral toe baie mense se huise leeg gestaan het tydens die vakansietydperk. Klem is gelê op die voorkoming van misdaad asook die beskerming van huis en haard.

Buurtwagte is toegerus met die nodige permitte en het daarmee onverpoos hul werk voortgesit en honderde ure op straat deurgebring. Patrollies is per voertuig asook te voet uitgevoer. Tydens die patrollies is ondersteuning aan die polisie gebied en verskeie inhegtenisnames is gemaak, veral in die Noord-, Wes-, en Suid-Kaap. Buurtwagte in die Oos-Kaap het grootliks daartoe bygedra dat vermiste persone weer opgespoor is en verskeie gesteelde voertuie teruggevind is. Die diefstal van koperkabels bly steeds ’n prioriteit en verskeie pogings om kabeldiefstal te pleeg is deur buurtwagte gekniehalter. In dié tydperk is hommeltuie ook gereeld effektief tydens operasies saam met die polisie ingespan om verdagtes vinnig vas te trek. Buurtwagte het ook gehelp met die bestryding van veldbrande in die Suid-Kaap.

Volgens terugvoer wat ontvang is vanaf verskeie polisiekantore, die brandweer op Hermanus, buurtwaglede en mense wat hulp ontvang het tydens die feesseisoen, was die verskeie veiligheidsprojekte ’n groot sukses.

“Of die son skyn, die wind waai en of dit nat is, voer lede van AfriForum se buurtwagte hul take met passie en vasberadenheid uit. Die betrokkenheid van ons buurtwagte en elke persoon wie deel het daarin, dra direk by tot veiliger gemeenskappe. Ons wil dus vir elke leier, elke patrolleerder en elke persoon wat hulle ondersteun, asook die gades en kinders wat by die huis bly, baie dankie sê vir die opoffering wat gemaak word. Julle dra by tot die weerbaarheid van ons gemeenskappe,” sê Mark Kuys, AfriForum se streekshoof van Gemeenskapsveiligheid in die Noord-, Oos-, Suid- en Wes-Kaap.

Om by een van AfriForum se buurtwagte betrokke te raak, SMS “Veilig” na 45353.

Soortgelyke plasings