|

Bywoners aan KonTiki-vlotresies in AfriForum se veilige hande

AfriForum se Kempton Park-tak het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) misdaadvoorkomingsdienste gelewer tydens die jaarlikse KonTiki-vlotresies by die Homestead-dam in Benoni.

’n Span van 32 buurtwagpatrolleerders het van Vrydag 17 Mei om 14:00 tot Saterdag skuins ná 02:00 onvermoeid gewerk om ’n veilige en rustige omgewing te verseker. Hierdie toegewyde individue het hulself in diens van die gemeenskap gestel om misdaad te voorkom en het ’n sigbare teenwoordigheid gehandhaaf deur die loop van die geleentheid.

Die sukses van hierdie misdaadvoorkomingsinisiatief by die Homestead-dam is ’n bewys van wat bereik kan word wanneer gemeenskappe en wetstoepassers saamwerk. AfriForum se Kempton Park-tak sal voortgaan om sulke pogings te ondersteun en te bevorder om ’n veilige omgewing vir almal te verseker.

Danksy die verhoogde sigbaarheid is geen misdaad aangemeld nie. Daar was wel ’n voorval waar motorsleutels in ’n voertuig agtergelaat en aan die eienaar terugbesorg is nadat die voertuig gesluit is.

“Ons is ongelooflik trots op ons patrolleerders en die SAPD vir hul samewerking en harde werk tydens hierdie geleentheid,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “Hulle toewyding aan gemeenskapsveiligheid het ’n beduidende verskil gemaak en ons waardeer hul onbaatsugtige diens.”

“Dit is ons verantwoordelikheid om te verseker dat ons gemeenskap veilig en beskermd voel wanneer hulle aan gemeenskapsdae en byeenkomste deelneem. Dit is hierdie geleenthede wat ons tradisies lewendig hou en ons gemeenskap verenig,” sluit Ferreira af.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en sien hoe ’n gemeenskap sy eie toekoms in hul eie hande neem. Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van die oplossing.

Soortgelyke plasings