AfriForum bied opleiding in trauma-ondersteuning aan

AfriForum se trauma-eenheid het nege vrywilligers gewerf en op 5 November in George opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdaad op die toneel by te staan. Weens die toename in hierdie tipe misdade in landelike gebiede, het die behoefte aan trauma-ondersteuning op die tonele toegeneem. Izel Kruger en Johan Kloppers, beide traumaberaders van AfriForum se trauma-eenheid, het vrywilligers in die Suid-Kaap met die nodige kennis en vaardighede toegerus.

Die nege vrywilligers is van verskeie buurt- en plaaswagte uit George, Sondagsrivier, Knysna, Ruiterbos, Brandwag en Outeniqualand afkomstig. Die opleiding het by die George Lodge International-gastehuis en konferensiesentrum plaasgevind waar die vrywilligers vir die praktiese opleiding bymekaargekom het.

AfriForum Jeug was ook deur die George-tak se voorsitter, Jana Naude verteenwoordig wat die opleiding bygewoon het.

Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle op die toneel, emosioneel te ondersteun asook te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. Realistiese tonele is vir kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp.

“Die vrywilligers het baie baat by die praktiese opleiding gevind en hulle het nou die nodige kennis om ondersteuning aan slagoffers in hul betrokke gemeenskappe te bied. Hierdie is ’n waardevolle toevoeging vir gemeenskapsveiligheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word,” sê Johan Kloppers, traumaberader vir die Suid-streek wat die Wes-, Suid-, Oos- en Noord-Kaap insluit.

AfriForum se trauma-eenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle te ondersteun te versterk.

Soortgelyke plasings