|

AfriForum bied opleiding in trauma-ondersteuning aan

AfriForum se Trauma-eenheid het op 13 Mei ses vrywilligers in Oudtshoorn opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdaad op die toneel by te staan. Hierdie tipe misdade is aan die toeneem in landelike gebiede en daarom het die behoefte aan trauma-ondersteuning op hierdie tonele ook toegeneem. Izel Kruger en Johan Kloppers, traumaberaders van AfriForum se Trauma-eenheid, het vrywilligers in die Wes-Kaap met die nodige kennis en vaardighede toegerus.

Die ses vrywilligers is deel van die Oudtshoorn en De Rust buurtwagte. Die opleiding het in Oudtshoorn by die NG-kerk Oudtshoorn-Wes plaasgevind waar die vrywilligers vir die praktiese opleiding bymekaargekom het.

Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle op die toneel emosioneel te ondersteun asook te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. ’n Realistiese toneel is vir kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp.

“Die vrywilligers het baie baat by die praktiese opleiding gevind en hulle het nou die nodige kennis om ondersteuning aan slagoffers in hul betrokke gemeenskappe te bied. Hierdie is ’n waardevolle toevoeging vir gemeenskapsveiligheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word,” sê Johan Kloppers, traumaberader vir die suidstreek.

AfriForum se Trauma-eenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle te ondersteun te versterk.

Soortgelyke plasings