| | |

Zithabeseni-kwarantynkamp: AfriForum eis antwoorde

AfriForum het vandag in ’n brief aan Patricia de Lille, Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, versoek dat haar departement die Gesondheidsdepartement se Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal ondersoek. Dit volg nadat die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria gister in AfriForum se guns beslis het dat dié COVID-19-kwarantynkamp waar meer as 100 mense aangehou was, onmiddellik gesluit moet word. Dié mense is intussen vanoggend toegelaat om huis toe te gaan.

AfriForum versoek verder in die brief dat De Lille se departement moet bepaal hoe hierdie kamp gekies en goedgekeur is as een van die regering se COVID-19-kwarantynkampe, wie voordeel getrek het uit die keuse van hierdie kamp, asook of daar enige korrupsie was met die toekenning van die tender vir hierdie kamp.

Die Nel-gesin, wat in Mosambiek vakansie gehou het toe die staat van inperking aangekondig is, is van die mense wat in die kamp aangehou is. Die gesin het ná vyf weke van selfisolasie in Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer. Met hul aankoms by die Lebombo-grenspos het SAPD-lede hulle na die Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal geneem – sowat 400 km van die grenspos af.

Die Nels het AfriForum genader vir bystand onder meer weens die feit dat die fasiliteit bouvallig is en ’n gesondheidsrisiko inhou vir almal wat daar onder kwarantyn geplaas word. Wilde diere soos bobbejane loop vrylik rond ten spyte van die feit dat klein kinders op die perseel teenwoordig is. Verder is die mense in die kamp nie van basiese noodsaaklikhede soos kos, komberse, toiletpapier, skoonmaakmiddels en handdoeke voorsien nie. Die kraanwater is ondrinkbaar en daar was nie genoeg gebottelde water vir almal nie.

“AfriForum is baie bly die kamp is gesluit en dat mense nie meer in daardie haglike omstandighede hoef te bly nie. Ons kan egter nie die saak daar laat nie. Ons wil weet hoe hierdie fasiliteit ooit goedgekeur kon word as ’n amptelike COVID-19-kwarantynkamp terwyl dit duidelik nie aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se vereistes voldoen nie. As mense onregverdig voordeel getrek het uit die gebruik van hierdie kamp, moet hulle aan die pen ry,” sê Monique Taute, bestuurder van AfriForum se Veldtogte-afdeling.

Soortgelyke plasings