Water
|

AfriForum-tak in Ermelo en Chrissiesmeer soek strukturele interdik oor verval en wanbestuur in Msukaligwa-munisipaliteit

Die inwoners van Ermelo gaan al vir ’n geruime tyd gebuk onder gebrekkige dienslewering, wanbestuur en kragonderbrekings onder die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit. Dít het die AfriForum-tak in dié dorp genoop om die howe te nader vir ’n strukturele interdik teen die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit.

Hierdie munisipaliteit se wanbestuur kom neer op ’n skending van talle grondwetlike regte, meen Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld. AfriForum wil met hierdie interdik die munisipale bestuur, provinsiale en nasionale owerhede bind tot ’n regsgeding wat dienslewering aan die gemeenskap sal verseker.

Dié AfriForum-tak eis onder meer die volgende van die munisipaliteit:

  • Om onmiddellik die probleme ten opsigte van kragonderbrekings die hoof te bied.
  • Om die nodige onderhoud en herstelwerk aan rioolstelsels te verrig.
  • Om die nodige herstelwerk aan paaie wat verbrokkel te verrig.
  • Om beheer uit te oefen by die stortingsterrein waar onwettige storting plaasvind.
  • Om wanprestasie, finansiële wanbesteding en korrupsie die hoof te bied.

Die munisipaliteit se versuim om hul basiese pligte teenoor die inwoners na te kom is ’n ernstige kwessie. “Die onwettige storting van vullis vererger die besoedeling in hierdie area, veral aangesien die munisipaliteit nie eens basiese skoonmaakdienste in die dorp verrig nie. Rou riool loop die strate vol en die Pet Dam is al só besoedel dat die visse begin vrek,” voeg Bekker by. “Die verval van die dorpe in hierdie munisipaliteit is astronomies en dit blyk dat die munisipaliteit geensins van plan is om iets daaraan te doen nie.”

’n Hofdatum is nog nie bekendgemaak nie. Die takke moedig die publiek aan om hulle steun agter hierdie saak te sit deur hierdie webblad te besoek.

Soortgelyke plasings