|

AfriForum-boekeskenking aan Fichardtpark Biblioteek sorg vir leesvreugde

Die ekonomiese uitdagings van ons tyd laat ook hulle merk op biblioteke. Landswyd word daar in die ergste gevalle besluit om biblioteke te sluit, of anders word begrotings drasties gesny. As nuwe boeke nie voortdurend aangekoop kan word nie, verloor biblioteke oplaas hulle betekenis. Saam met stygende drukkoste stel die besnoeiings dus groot uitdagings aan bibliotekarisse wat graag die jongste publikasies vir hulle lesers wil aankoop.

In vele dorpe en stede is die biblioteek steeds die hart van die gemeenskap. Vir mense wat nie die hulpbronne het om self boeke te koop of aanlyn te lees nie, is dit die enigste toegang tot leesstof en inligting. Gewoonlik is dit ook van die mees weerlose mense in ’n gemeenskap, soos kinders of bejaardes.

In Augustus vanjaar het AfriForum Uitgewers ons jongste publikasie, So is onse mense van prof. Jaap Steyn by Fichardtpark se biblioteek in Bloemfontein bekendgestel. Dit is ’n pragtige en lewendige plek, met die mooiste binnetuin vir rustige leestyd wat deur vrywilligers uit die gemeenskap onderhou word. Verder is die kleurvolle en vrolike afdeling vir kinders duidelik ’n plek wat enige lesertjie sal gelukkig maak! Die personeel is ’n gasvrye, uiters kundige groep mense wat dit geniet om die publiek te dien en te bedien.

Diep onder die indruk van ’n munisipale begroting wat weinig ruimte vir die aankoop van Afrikaanse boeke laat, het AfriForum ’n boekskenking vir kinders aangekoop. Die personeel het dit met groot vreugde uitgepak.

Hulle boodskap lui: “Baie, baie dankie vir die 48 Afrikaanse kinderboekskenking aan Fichardtpark Biblioteek. Ons het dit nou net ontvang! Ons stuur vir julle foto’s van die boeke en ons personeel. Dit glimlag van oor tot oor. Ons waardeer julle skenking geweldig baie in die moeilike tye. Die kinders van die omgewing gaan baie lekker lees en die personeel gaan dit geniet om die stories voor te lees vir die kleuterskole. Ons sien daar is ook boeke vir ons tieners. So, so dankbaar.”

Enigeen wat Afrikaans wil bevorder kan gerus ’n donasie aan ’n biblioteek in jou omgewing maak. Selfs tweedehandse boeke is altyd welkom – wat biblioteke nie self wil hou nie, verkoop hulle en gebruik die geld dan vir aankope van ander boeke.

Kom ons koester ons biblioteke en hulle personeel – hulle help skep aan die drome van vele jongmense wat eendag nog aan ons toekoms gaan bou!

Soortgelyke plasings