|

AfriForum Brandweer help om brand by hospitaal te blus

Die nuutgestigte AfriForum Brandweer het op Sondag 7 Julie blitsig gereageer toe ’n brand by die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein uitgebreek het.  Die brand het ongeveer 15:20 buite die pediatriese-eenheid ontstaan toe bome aan die brand geslaan en na die tweede vloer begin versprei het. ’n Totaal van 83 mense is uit die hospitaal ontruim en daar was geen ernstige beserings of sterftes nie.

AfriForum Brandweer tesame met die AfriForum-buurtwagte het reageer op die noodberig wat op WhatsApp versprei is. AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het vyf personeel en twee voertuie na die toneel gestuur – waar onder die ultrahoëdrukeenheid en ’n ondersteuningsvoertuig. Op die toneel het AfriForum Brandweer-personeel dadelik met die Mangaung Brandweerdiens se offisier gepraat en koördineer oor waar AfriForum Brandweer en die buurtwagte kan help. AfriForum Brandweer en die AfriForum-buurtwagte het gehelp om pasiënte, personeel en besoekers uit die hospitaal te ontruim.

AfriForum Brandweer-personeel het ook twee mense uit die gebou gered toe die digte rook daartoe gelei het dat die mense nie hul weg uit die gebou kon vind nie. Buite die gebou het AfriForum-buurtwaglede gehelp om mense na verskeie versamelpunte te verwys – dit is deur middel van hul gemeenskaplike operasionele sentrum (GOS) gekoördineer.

“Ons personeel is opgelei om hierdie tipe gevalle te hanteer en dit is belangrik om saam met ander rolspelers te werk om die gemeenskap se veiligheid te verseker. Ons het Sondag weer gesien dat dit nodig is om goeie samewerking te bewerkstellig veral tussen AfriForum Brandweer en die Mangaung Brandweerdiens,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum. 

Sedert AfriForum Brandweer in Junie vanjaar gestig is was daar reeds verskeie suksesse gewees. AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het onlangs ook ’n jong vrou gehelp wat van ’n rivierwal afgeval het en ’n oop armfraktuur opgedoen het. Mangaung Brandweerdienste het ook hier gehelp.

Voorts het AfriForum Brandweer ook gehelp waar ’n groot grasdak afgebrand het en ook twee veldbrande geblus.

AfriForum Brandweer lewer ’n privaat brandweerdiens in die Bloemfontein-omgewing vir AfriForum-lede. Vir meer inligting besoek www.afriforumbrandweer.co.za.

Soortgelyke plasings