AfriForum dien hofstukke in teen artikels van Wet op Rampbestuur wat magsmisbruik moontlik maak

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag hofstukke by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om dele van die Wet op Rampbestuur wat die organisasie as kanale vir magsmisbruik deur die regering geïdentifiseer het, te hersien en tersyde te stel.

AfriForum se hofaansoek is ’n direkte uitdaging vir die grondwetlikheid van artikel 27(2) in samewerking met artikel 27(5)(c) van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002.

Die kruks van AfriForum se uitdaging kom in teen die agtergrond van die Covid-19-pandemie nadat dit ingevolge die Wet tot ’n nasionale ramp verklaar is. Die land het ’n situasie beleef waardeur die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ongekende wye en uitgebreide magte oor ’n lang tydperk uitgeoefen het om regulasies te maak wat die alledaagse lewens van Suid-Afrikaners op ’n ongekende vlak en skaal binnegedring het.

Die gevolge van die artikels van die Wet wat die regering in staat gestel het om sy magte te oorskry, sluit in:

  1. ’n ernstige nadelige uitwerking op verskeie fundamentele regte van individue
  2. ’n ernstige nadelige uitwerking op verskeie ondernemings in die land en mense se lewensbestaan
  3. ’n ernstige nadelige uitwerking op die ekonomie van die land as geheel
  4. ’n nadelige uitwerking op basiese onderwys en die regte van kinders
  5. ’n nadelige uitwerking op die normale implementering en uitvoering van verskeie stukke wetgewing
  6. ’n aansienlik verminderde rol van die parlement, die leerstelling van die skeiding van magte en die grondwetlike demokrasie en sommige van sy stigtingswaardes ingevolge artikel 1 van die Grondwet

AfriForum neem dus hierdie saak in belang van sy meer as 306 000 lede en die algemene publiek aan.

“Vir meer as twee jaar is burgers en ondernemings nadelig geraak deur onverpoosde regeringsoortreding en magsmisbruik, wat grootliks deur sekere dele van die Wet op Rampbestuur moontlik gemaak is,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Een van die grootste take wat burgerregteorganisasies soos AfriForum in die gesig staar, is om te identifiseer watter magte tydens die Covid-19-pandemie deur die regering misbruik is en om seker te maak die wetgewende weë wat hierdie misbruike moontlik gemaak het, word hersien en hervorm,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings