|

AfriForum verlang samewerking met Nasionale Polisiekommissaris om plaasmoorde te bekamp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Lt. Genl. Khehla John Sitole, Nasionale Polisiekommissaris, vandag versoek om ’n vergadering te belê om strategieë en voorstelle te bespreek om plaasaanvalle en -moorde te bekamp. AfriForum het ook versoek dat die organisasie geken word in besprekings en vergaderings wat die SAPD beplan om saam met ander burgerlike gemeenskapsorganisasie te hou om landelike veiligheid te verbeter.

“AfriForum is sedert 2012 daarmee gemoeid om plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade te laat klassifiseer. Ons verwelkom daarom die Nasionale Polisiekommissaris se onlangse belofte dat plaasmoorde ’n hoër prioriteitstatus sal ontvang,”  sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

“2020 is gekenmerk deur ’n golf van plaasaanvalle en wreedaardige moorde, insluitend die moord op ’n swanger vrou. Die wrede moord op Elzabie (54), Breggie (73) en Danie Brand (83) van Hartswater het honderde mense vanuit die omgewing en elders genoop om na die Landdroshof op te ruk om dié moorde en moord in die algemeen te verdoem. Dit kan nie gou genoeg gebeur dat die polisie begin om dié misdade met die prioriteit te behandel wat dit verdien nie. AfriForum bied sy volle ondersteuning aan die SAPD om hierdie veragtelike misdade te bekamp,” sluit Roets af.

AfriForum sien uit na die Nasionale Polisiekommissaris se reaksie.

Soortgelyke plasings