|

Federale oplossings enigste teenvoeter vir ANC-mislukkings

Die winde van verandering is reg deur die land besig om te waai en landsburgers besef toenemend dat nuwe oplossings gesoek moet word vir die klaaglike mislukkings onder die ANC-regering.

Federalisme as oplossing vir die kakistokrasie (regering deur die swakstes) en korruptokrasie (ongebreidelde korrupsie) waaraan die ANC skuldig is, het vandag tydens ’n konferensie van AfriForum onder die loep gekom.

’n Verslag getiteld The failures of the ANC and the solution of federalism is ook vrygestel.

In die verslag werp Reiner Duvenage, veldtogbeampte by AfriForum en skrywer van die verslag, lig op die omvang van die mislukkings onder die ANC-regering sowel as die enorme omvang van wanbesteding en vermorsing van belastinggeld.

Daar was onlangs ook openbare woede oor die aankondiging van ’n salarisverhoging vir hoëvlak regeringsamptenare, terwyl gewone landsburgers van mening is dat die regering hulle op elke denkbare terrein versaak en in die steek laat.

Duvenage wys daarop dat Suid-Afrika, met 28 ministers, een van die grootste kabinette ter wêreld is, terwyl daar feitlik geen sprake van behoorlike regering of dienslewering is nie. Dít terwyl die salarisse van ministers en adjunkministers tussen R2 miljoen en R2,4 miljoen per jaar beloop. Die verslag werp ook lig op die astronomiese voordele wat amptenare kry.

Met verwysing na sleutelareas waar die regering misluk, is wanbesteding en wanbestuur ook uitgewys. Voorbeelde is:

  • Die Onderwysdepartement onderpresteer vergeleke met talle onderwysstelsel in die res van die wêreld en tussen 2019 en 2020 was die departement verantwoordelik vir onregmatige besteding van sowat R1,4 miljard.
  • Tussen 2020 en 2021 het die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente R77 miljard onregmatig bestee.
  • Openbare ondernemings soos SAL, Prasa, Eskom en Transnet het ook ’n klaaglike rekord en is tot in die grond in bestuur. Eskom se skuldlas beloop sowat R400 miljard terwyl die land daagliks onder beurtkrag gebuk gaan. Denel is ook bankrot en moes onlangs ’n reddingsboei van R3 miljard kry.
  • Die Departement van Gesondheid is ook onder enorme druk en net die Wes-Kaapse departement kon daarin slaag om ’n skoon oudit te kry. In die 2019/2020-verslag van die ouditeur-generaal is bevind dat Gauteng se gesondheidsdepartement alleen R15,87 miljard onregmatig bestee het.
  • Bheki Cele, minister van Polisie, slaag nie daarin om die misdaadvlakke in die land onder beheer te bring nie. Volgens die SAPD is daar tussen Oktober 2021 en Maart 2022 altesame 12 942 moorde en 22 133 gevalle van verkragting aangemeld. Die omvang van die SAPD se mislukkings word weerspieël deur die feit dat daar drie keer privaatsekuriteitsbeamptes (557 277) as polisielede (182 126) is.
  • Die Departement van Vervoer is ook in die spervuur onder minister Fikile Mbalula wat skuldig bevind is daaraan dat hy drie amptenare teen salarisse van tussen R1,4 miljoen en R1,7 miljoen onregmatig as adviseurs aangestel het. Prasa, wat ook onder Mbalula val, het in 2020/2021 meer as R28 miljard onregmatig bestee.
  • Water en sanitasie is ’n verdere krisis in die land met die waterhandelseenheid wat in 2020/2021 sowat R7 miljard onregmatig bestee het. Amnestie Internasionaal het gewaarsku dat die land teen 2030 ’n watertekort van tot 17% sal hê indien die regering nie in waterinfrastruktuur en tegnologie belê nie.

Duvenage sê die ANC se mislukking is prakties en ideologies. Die regering slaag eenvoudig nie daarin om die basis vir groei en vooruitgang in die land te skep nie. “Die regering se sentralistiese beleid werk eenvoudig nie en burgers besef hulle kan nie meer op die regering staat maak nie. Die enigste oplossing vir die ernstige bestuurs- en ander probleme is om alternatiewe oplossings te kry.”

Volgens Duvenage is die Solidariteit Beweging se instellings op vele terreine reeds besig om die oplossings uit te rol deur byvoorbeeld die bou van selfstandige instellings soos Sol-Tech en Akademia en die vestiging van buurt- en plaaswagte wat gemeenskappe beveilig.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die beweging se sewebeen- federale toekomsplan uiteengesit wat daarop gemik is om gemeenskapselfstandigheid op verskillende terreine te bevorder en te versterk.

“Gemeenskapsfederalisme is deel van AfriForum se DNS en daarom doen ons self om die bestaande werklikheid te verander.”

Volgens Kriel bepaal demografie die verskillende oplossings reg oor die land. Die demografie lyk nie oral dieselfde nie en daarom is verskillende oplossings nodig. Ankergemeenskappe, waar Afrikaners saam ’n meerderheid vorm, soos in bepaalde woongebiede in Pretoria, en plekke soos Nelspruit en Potchefstroom moet sterker gemaak word. ’n Ankergemeenskap-proefprojek in Pretoria is in ’n ontwikkelingsfase en sal nadat dit hier uitgerol is na die res van die land uitgerol word.

Die ontwikkeling en uitbou van Orania is nog ’n oplossing. “Dit is baie belangrik dat daar nie anders na ’n Afrikaner-kultuurgemeenskap as enige ander een in die land gekyk word nie. Niemand bevraagteken dit as daar ’n Concordia- of Barolong-kultuurgemeenskap is nie.”

Die ander oplossings is die versterking van die internasionale kanton deur middel van hulp van die diaspora en die bou van selfstandige instellings. “Die werklikheid is baie van ons mense het of verlaat die land. Ons is egter steeds aan hulle gebind en deur saam te werk, kan ons wedersyds waarde toevoeg.”

Kriel verduidelik dat federalisme geensins beteken dat mense hulself wil afskei nie. “Dit is doodeenvoudig dat gemeenskappe verantwoordelikheid neem en na hul eie toekoms kyk. En dit kan op verskillende maniere en deur verskillende netwerke gedoen word.”

Heindrich Wyngaard, uitvoerende hoof van die Kaapse Forum, het verduidelik hoe dié forum in die Wes-Kaap aansluit by die plan vir groter federalisme in die land.

Hy meen die winde van verandering waai reeds teen die mislukkende staat en die ANC-regering kan nie daarvan wegkom nie al wil hy.

Hy het verduidelik dat mense in die Wes-Kaap op grondvlak en in gemeenskappe toenemend saamwerk om ’n beter stelsel te kry om hul eie probleme op te los. Hy het beklemtoon dat die Kaapse Forum geensins by politiek betrokke is nie en daarom gemaklik met verskillende politieke partye sowel as ander strukture in die Wes-Kaap saamwerk en hulle onder meer vir ’n referendum oor verskeie kwessies beywer ten einde groter mag in gemeenskappe se hande te plaas om oplossings vir hul eie probleme te kry.

Wyngaard het ook gewys op die strewe van die Kaapse Forum naamlik om historiese en hedendaagse vervreemding van bruin mense reg te stel. Hy het gesê nie almal vereenselwig hulle egter hiermee nie en dat die sogenaamde bruin elite, wat voordeel uit regstellende aksie en swart bemagtiging getrek het en met wie dit baie goed gaan, nie vir die probleme van bruin gemeenskappe opstaan of daaroor besorg is nie.

“Hulle sien hulself as begunstigdes wat hul posisie moet beskerm. Die werklikheid is egter bruin mense as minderheid het ook ’n reg op ’n stem sowel as ’n reg om ’n bydrae tot die land te lewer.”

Volgens Wyngaard bestempel gewone mense organisasies soos die Kaapse Forum en AfriForum as ’n goeie ding. “Daar is konsensus dat ons ’n probleem in die land het en dat ons almal iets daaraan moet doen.”

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings