|

AFRIFORUM-BUURTWAG IN SPRINGS VIND MOTOR MET BEHULP VAN SNIPER-TEGNOLOGIE

Die AfriForum-buurtwag in Springs het vroeg vanoggend in samewerking met Blue Hack Tactical en Beast Tactical ’n gesteelde voertuig teruggevind.

Dié sukses word toegeskryf aan die doeltreffende gebruik van tegnologie. Omstreeks 06:00 is een van die buurtwag se SNiPER-kameras deur ’n gesteelde voertuig geaktiveer. Die drie groepe het die omgewing gefynkam en die gesteelde voertuig opgespoor. Die verdagte is na die plaaslike polisiekantoor geneem en die eienaar van die voertuig is in kennis gestel dat die voertuig teruggevind is.

“Ons het vandag weer gesien hoe sterk doeltreffende tegnologie ons maak,” sê Morné Greyling, AfriForum se Springs-buurtwagleier.

AfriForum se Springs-buurtwag het  vanjaar ’n kameraprojek van stapel gestuur om die buurtwag meer doeltreffend te maak. Daar is reeds twee kameras opgerig, wat samewerking tussen die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en AfriForum sterker verbeter het. Die buurtwag beplan om die projek verder uit te brei en vroeg volgende jaar nóg kameras op te rig. Dit sal verseker dat al die veiligheidsinstansies proaktief in hul omgewings kan optree.

“Ons wil graag vir Blue Hack Tactical en Beast Tactical bedank vir hul bereidwilligheid om met ons saam te werk en ’n verskil te maak. Dit is uiteindelik die enigste wyse waarop misdaad doeltreffend bekamp kan word,” sê Greyling.

“Ons moedig lede van die gemeenskap aan om by hul plaaslike strukture betrokke te raak – veral oor die feestyd wanneer misdaad veral hooggety vier,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings