|

AFRIFORUM-REGSMAN LÊ KLAG VAN AANRANDING TEEN MALEMA EN NDLOZI NÁ VOORVAL IN HOF

Wico Swanepoel, ’n prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het op 9 Desember 2020 ’n klag van aanranding by die Randburg-polisiestasie gelê teen Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP. Dit volg nadat Swanepoel op 29 Oktober 2020 in die Randburgse Landdroshof deur Malema en Ndlozi met fisiese geweld gedreig is. Die voorval het plaasgevind tydens die verhoor van dié EFF-leiers op klagtes van die aanranding van ’n polisiebeampte. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak namens die klaer en het die hofverrigtinge daarom bygewoon.

Malema en Ndlozi het na afloop van teetyd op die betrokke dag vir Swanepoel toegesnou dat hy in die pad is omdat sy bene gedeeltelik voor die beskuldigde bank was waarby hulle wou inkom. Volgens Swanepoel het hy dadelik regop gesit toe hy besef het dat die beskuldigdes wou verbykom. Malema en Ndlozi het Swanepoel egter steeds toegesnou dat hulle nie verby kan kom nie en dat Swanepoel besig was om ’n ontwrigting te wees. Malema het ook gesê: “We cannot tolerate disruption.”

Ndlozi het volgens Swanepoel sy vinger na hom (Swanepoel) gewys en gesê: “We will push you”. Swanepoel het vir Ndlozi gevra of hy besig was om hom te dreig, waarna Ndlozi sy woorde herhaal het. Ndlozi het Swanepoel ook tydens die gebeure ’n leuenaar genoem, waarna Malema, Ndlozi en ’n lyfwag van Malema vir Swanepoel omsingel en aanhou skree het dat hy uit die hof verwyder moes word. ’n Polisiebeampte het Swanepoel ondersteun en hom gehelp om van die EFF-lede weg te beweeg. Volgens Swanepoel het hy geglo dat ’n aanval op sy persoon gedreig het omdat Malema en Ndlozi juis in die hof was op klagtes van aanranding. Dié aanranding het in die teenwoordigheid van senior polisielede geskied en is ook op beeldmateriaal vasgevang.

In die Suid-Afrikaanse reg word die dreigement van geweld op ’n persoon se liggaam as aanranding geag as die bedreigde persoon glo dat die persoon wat hul dreig die bedoeling en mag het om dié dreigement uit te voer.

Volgens Natasha Venter, adviseur vir privaat vervolging by AfriForum, is hierdie gedrag van Malema en Ndlozi skandelik. “Dié twee beskuldigdes – albei politieke leiers wat ’n voorbeeld vir hul volgelinge behoort te stel – is reeds in die beskuldigdebank vir aanranding. Nietemin blyk dit dat hulle hulself weer skuldig maak aan dié misdaad. AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan gereed om Malema en Ndlozi sélf te vervolg, aangesien ons nie kan toelaat dat wettelose gedrag soos hierdie ongestraf gelaat word nie.”

Soortgelyke plasings