|

Vee BELA-wetsontwerp uit, eis AfriForum Jeug met “donkieborde” om die nek

Lede van die jeugorganisasie AfriForum Jeug het vandag tydens ’n protesaksie by die Uniegebou ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om die gewraakte Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (bekend as die BELA-wetsontwerp) te skrap, en dus as’t ware uit te vee. As simbool van die uitwissing waarop aangedring word, het jong protesteerders swartborde, met die woorde “I am a donkey” om hul nekke gedra en ’n reuse-uitveër by die protesaksie vertoon. ’n Memorandum, gerig aan Ramaphosa, waarin AfriForum Jeug hul teenkanting teen die wetsontwerp uiteensit, is ook tydens die protesaksie aan ’n verteenwoordiger van die Presidensie oorhandig.

Volgens AfriForum Jeug herinner die BELA-wetsontwerp aan die verengelsingsbeleid wat Britse owerhede kort ná die Anglo-Boereoorlog in skole toegepas het. As deel van dié beleid is kinders verneder indien hulle Afrikaans by die skool gepraat het. Bordjies waarop die woorde “I am a donkey, I spoke Dutch” aangebring is, is dan om dié kinders se nekke gehang in ’n poging om hulle te verengels. Ter bewusmaking van die eietydse verengelsing wat met die BELA-wetsontwerp op skole afgedwing wil word, het AfriForum Jeug-lede wat aan die protesaksie deelgeneem het, ook “donkieborde” om hul nek gedra.

AfriForum Jeug voer in die memorandum aan dat die BELA-wetsontwerp ’n direkte aanval op moedertaalonderrig in die algemeen is, en ’n indirekte aanval op Afrikaans as onderrigtaal. Die wetsontwerp bevat klousules wat beheerliggame van die mag stroop om self ’n skool se taalbeleid te kan bepaal en wat dit vir ouers onmoontlik sal maak om hul kinders tuis te onderrig indien die provinsiale onderwysdepartement nie vooraf toestemming verleen het nie. AfriForum Jeug benadruk dat, indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar sou word, die toepassing daarvan sal neerkom op kulturele etniese suiwering. Met dié verskynsel, poog een groep (byvoorbeeld ’n regering) om alle vorme van kulturele diversiteit van een of meer kultuurminderhede te vernietig deur middel van die toepassing van ekstreme assimilasie en die vernietiging van ’n groep se kultuurerfenis en geskiedenis, en dan ’n enkele taal of wêreldbeskouing op dié groepe af te dwing.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum Jeug, laat die BELA-wetsontwerp Afrikaanse jongmense warm onder die kraag. Onder vandag se groep protesteerders is jongmense wat tans nog die voorreg het, of dit tot onlangs toe nog gehad het, om in hul moedertaal onderrig te word, en graag wil sien dat hul kinders ook eendag daardie voorreg gegun word. “’n Groot aantal organisasies en individue het al hul teenkanting teen die BELA-wetsontwerp uitgespreek, maar vandag se protesaksie toon dat die vernietigende wetsontwerp nie bloot anonieme of gesiglose mense sal raak nie, maar die jeug van die huidige en komende generasies. Die jeug se stem sal nie gedemp word nie – daarom moet die president nou ag gee,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings