AfriForum nader hof oor verregaande gesondheidsregulasies

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die openbaredeelnameplatform DearSA het met regstappe begin teen die regering se besluit om Covid-19-regulasies permanent in die wet te verskans.

Die organisasies het vandag hul dringende regsaansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Dit volg ná die Departement van Gesondheid se aankondiging dat regulasies met betrekking tot aanmeldbare siektes ingevolge die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003 en die Wet op Internasionale Gesondheidsregulasies 28 van 1974 nou gewysig is.

Dit beteken dat die regering permanent die dra van maskers en beperkings op byeenkomste kan afdwing. Die regulasies gee ook aan Joe Phaahla, minister van gesondheid, die enigste gesag om te bepaal hoe lank sulke regulasies geïmplementeer moet word en wanneer dit opgehef kan word. Dit geld nie net vir Covid-19 nie, maar enige aanmeldbare siekte. AfriForum en DearSA bevraagteken ook die geldigheid van die openbare deelnameproses wat die Departement van Gesondheid gevolg het voordat hierdie regulasies in werking gestel is. Hierdie twee organisasies het altesaam meer as 310 000 openbare kommentaar ingedien.

AfriForum vind dit ook kommerwekkend dat die regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, nie dieselfde regulasies is wat vir openbare kommentaar gepubliseer is nie.

“Die burgers van hierdie land is nie pionne op die regering se skaakbord om rondgestoot te word wanneer magsbehepte amptenare so voel nie. AfriForum sal hierdie regulasies, indien nodig, in die hoogste howe beveg om te verseker dat landsburgers se regte ten volle herstel word. Burgers is keelvol vir die regering se voortdurende inbreuk op hul persoonlike vryhede,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

Soortgelyke plasings