|

AfriForum-buurtwag trek plaasaanvallers buite Mokopane vas

’n Plaasaanval is Maandagoggend kort ná 06:00 op ’n Maribashoek-hoewe buite Mokopane gefnuik en vier vermeende aanvallers is sedertdien aangekeer danksy ’n op en wakker radioroepgemeenskap, AfriForum se Potgietersrus-buurtwag en verskeie ander plaaslike veiligheidsorganisasies. 

Twee gewapende mans het die 49-jarige hoewe-eienaar vroegoggend ingewag toe hy uitgegaan het om sy diere te versorg. ’n Verdere drie verdagtes het wag gehou en nóg twee het in ’n wegkomvoertuig gewag. Die gewapende verdagtes het die man in sy huis ingedwing en geld geëis. Die daaglikse oggendradioroep het op daardie spesifieke oomblik net op die regte tyd gekom. Die hoewe-eienaar het die aanvallers gewaarsku dat indien hy nie sy roep sou antwoord nie, die bure onraad sou vermoed. Hy is toegelaat om die roep te antwoord en het deur middel van ’n voorafbepaalde kodewoord hulp ontbied. Die bure het dadelik gereageer, waarna die aanvallers gevlug het – vyf te voet en twee per motor.

Die voertuig wat gebruik is in twee van die aanvallers se vlug, is later dieselfde dag deur lede van die AfriForum-buurtwag en die sekuriteitsmaatskappy Bassopa Security voorgekeer. Albei dié verdagtes is aangekeer en aan die Mokopane-polisie oorhandig. Intussen is nóg twee verdagtes aangekeer. Drie is egter nog op vrye voet. Twee van die vier gearresteerde verdagtes is gewond toe hulle aangekeer is.

Hendrik Kotze, koördineerder vir AfriForum se Waterberg-distrik, het die buurtwaglede vir hul onbaatsugtige diens bedank. “Ons sien hierdeur hoe gemeenskappe, professioneel, gedissiplineerd en binne die raamwerk van die wet, eienaarskap neem van hul eie veiligheid en doelgerig ’n netwerk van samewerking vestig om daardeur hul voorspoedige voortbestaan te verseker,” sê Kotze.

Die groepe wat betrokke was by die vastrek van die plaasaanvallers was HPG Mokopane, AfriForum se Potgietersrus-buurtwag, Bassopa Security, die Arende-bergwag en AfriForum se Nylstroom-lugsteuneenheid wat met ’n hommeltuig bystand gelewer het.

Daar word ’n beroep op die gemeenskap gedoen om by hul plaaslike veiligheidstrukture aan te sluit.

Soortgelyke plasings