|

Heilbron-tak skraap stormwatersloot oop – net betyds vóór groot reëns

Desembers in Heilbron is tradisioneel nat en met ’n gemiddelde reënval van sowat 144 mm wat gewoonlik oor ’n tydperk van 15 dae in dié tyd van die jaar hier neerstort, wéét Heilbronners al – as dit reën, kom dit lekker reën. Daarom was AfriForum se Heilbron-tak vanjaar voorbereid en net betyds om voor vanjaar se groot Desember-reëns te sorg dat die verstopte stormwatersloot in Langmarkstraat oopgeskraap word.

Hul genoegdoening was daarom groot toe die afgelope dae se reën veilig in die sloot afgevoer is en nie die straat oorstroom het nie.

Die tak is genoop om die sloot oop te skraap nadat die munisipaliteit in gebreke gebly het om dit voor die aanvang van die reënseisoen te doen. Die plaaslike ondernemings L & T Boerdery en Heilbron Abattoir (HBA) het trekker-graaflaaiers (TLB’s) beskikbaar gestel vir dié taak.

Volgens Gerrie Muller, Heilbron se takvoorsitter, was die sloot ongeveer twee meter diep verstop en was hy verstom oor die groot hoeveelheid water wat ná die eerste Desember-reëns in die sloot afgestroom het. Dié kragtige stroom water sou geweldige skade aangerig het indien dit oor die straat sou spoel, verduidelik Muller. “Baie dankie aan almal wat ons met die TLB’s gehelp het. Op hierdie manier vat ons mekaar se hande en maak ons saam ’n verskil,” sluit Muller af.

“Hierdie aksie van die Heilbron-tak bewys net weer dat inwoners eienaarskap van hul dorp moet neem. In baie gevalle kan ons eenvoudig nie meer op die munisipaliteite vertrou om noodsaaklike dienste vir sy inwoners te lewer nie en daarom moet ons moue oprol en self inspring,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek.

Soortgelyke plasings