|

AfriForum-buurtwaglede ontvang opleiding

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het die afgelope tyd verskeie opleidingskursusse vir buurtwaglede aangebied. Dié organisasie het vandeesweek sy agtste protospankursus aangebied. Daarbenewens is vier verskillende kursusse tussen 9 en 11 Junie aangebied vir buurtwag-, inligtingspan-, operasiespan- en steunspanleiers.

Protospanlede is die sogenaamde spiespunt van AfriForum-buurtwagte se reaksiespanne en ontvang gespesialiseerde opleiding wat hand-tot-hand-gevegskuns, mediese opleiding, die beveiliging van tonele en taktiese vuurwapenhantering insluit.

AfriForum het 166 veiligheidstrukture landswyd en byna 10 000 opgeleide vrywilligers.

133 buurtwaglede regoor die land het al die protospankursus voltooi. Die jongste suksesvolle kandidaat is 19 jaar oud en die oudste 65.

“Ons sal aanhou om ons buurtwaglede van topgehalte veiligheidsopleiding te voorsien. Ons sien eerstehands die verskil wat ’n goedopgeleide en toegewyde buurtwag in die stryd teen misdaad maak,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Ons is baie trots en dankbaar vir al ons buurtwaglede wat hulself vrywillig toewy om hul gemeenskappe te help beveilig. Ons nooi graag gemeenskapslede, wat belangstel om ’n aktiewe rol in die beveiliging van hul gemeenskap te speel, om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwag,” sluit Broodryk af.

Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings