|

AfriForum se Heilbron-tak toets vir cholera

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 8 Junie watertoetse gedoen om vas te stel of daar cholera in die Elandspruit en die Uniefeesdam is. Daar is op twee plekke monsters geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word. Die tak het op 13 Junie die uitslae van die toetse ontvang.

Die goeie nuus is dat daar op geen van hierdie plekke tekens van cholera gevind is nie. Die slegte nuus is egter dat daar by albei hierdie plekke positiewe tekens van E. coli en fekale kolivorme gevind is. In kort beteken dit dat daar tekens van riool in die rivier is wat ander siektes as cholera kan veroorsaak.

“Ons maan inwoners van Heilbron om nie water uit hierdie twee bronne te gebruik nie en as dit noodsaaklik is, moet die water eers gekook word. Inwoners moet ook nie in die water swem nie. Dit is ook raadsaam om diere weg te hou van die spruit en dam af,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die plaaslike AfriForum-tak poog om met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit in verbinding te tree, maar die saak word bemoeilik omdat daar tans nie ’n munisipale bestuurder is nie. Die AfriForum-tak is al ’n geruime tyd in kontak met die Departement van Water en Sanitasie oor die erge besoedeling van Elandspruit. Hulle het die munisipaliteit reeds aangemaan, maar daar is nog geen poging van die munisipaliteit se kant aangewend om die saak op te los nie. Die resultate van die watertoetse is dadelik onder die DWS se aandag gebring.

“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. Dit is egter hartverskeurend dat ons waterbronne, waarsonder nie mens óf dier kan klaarkom nie, in die proses beskadig word. Ons hoop werklik dat die DWS nou ook daadwerklik sal optree,” sluit Pretorius af.

Raak by Heilbron se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak Paul Berg by 081 354 3073.

Soortgelyke plasings