AfriForum-buurtwagte en ander veiligheidstrukture help om woonbuurte in Bloemfontein tydens protesoptrede te beveilig


AfriForum-buurtwagte en ander veiligheidstrukture het gisteraand gehelp om woonbuurte tydens ’n protesoptrede in Bloemfontein te beveilig. Die onderskeie strukture het op strategiese punte by die ingange van woonbuurte gestaan om te verhoed dat stakende munisipale werkers dié gebiede invaar.

“Ons het gisteraand verneem dat die stadsaal deur die betogers aan die brand gesteek is. Al die buurtwagte en ander veiligheidstrukture wat saam met AfriForum onder Projek Nehemia inskakel, het te danke aan doeltreffende kommunikasie onmiddellik gemobiliseer om die veiligheid van hul buurte te verseker,” sê Pieter Myburg, AfriForum se streekskoördineerder vir Bloemfontein.

Vermeende betogers het ook vullis in Langenhovenpark aan die brand gesteek, maar die buurtwag in dié gebied was paraat en kon die brand onmiddellik blus.

“Ons wil mense aanmoedig om by hul betrokke buurtwagte in te skakel, sodat hulle weet wat op grondvlak aangaan en sodoende hulle gemeenskappe kan help beveilig,” sê Myburg verder.

SMS die woord “Buurtwag” na 45266 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings