AfriForum-buurtwagte in Gauteng-Noord woeker by nasionale massapatrollie


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Meyerspark-, Moot-, Moreletapark-, Pretoria-Wes-, Rayton-en-Cullinan- en Wes-Moot-buurtwagte het in samewerking met ander veiligheidsinstansies, die Tshwane Metropolisie, die Nasionale Verkeerspolisie en die SAPD in die Tshwane Metropool aan AfriForum se nasionale patrollie op 2 Desember 2017 deelgeneem.
Altesaam 326 patrolleerders het sowat 6 831 km gepatrolleer.

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van hoe doeltreffend veiligheidstrukture kan wees as hulle saamwerk en een doel nastreef. Misdaad raak almal en dus moet gemeenskappe saamstaan om misdaad te bekamp. Daarom doen AfriForum ’n beroep op gemeenskappe om toenemend by veiligheidstrukture betrokke te raak,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

AfriForum wil elke buurtwaglid vir hul deelname aan die nasionale patrollie bedank, asook die Metropolisie, die Verkeerspolisie, die SAPD en elke privaat instansie wat deelgeneem het.
AfriForum doen ’n beroep op die verskeie gemeenskappe in die Tshwane Metropool om by plaaslike takke betrokke te raak en aktief aan die aktiwiteite van die buurtwagte deel te neem. Stuur ’n e-pos aan lambert@afriforum.co.za vir meer inligting hieroor.

Soortgelyke plasings