|

AfriForum-buurtwagte patrolleer 77 000 km tydens nasionale massapatrollie

AfriForum se 169 buurt- en plaaswagstrukture het Vrydagaand (13 Oktober) kragte saamgesnoer en altesaam 77 109 km gepatrolleer tydens vanjaar se derde nasionale massapatrollie. Dié aksie vorm deel van AfriForum se nasionale veiligheidstrategie waarvolgens vrywilligers in dié organisasie se veiligheidstrukture verantwoordelikheid neem vir veiligheid in hul eie gemeenskappe. Tydens Vrydagaand se patrollies het hierdie strukture op 145 afsonderlike insidente gereageer.

Die meerderheid van AfriForum se Pretoria-gebaseerde buurtwagte het hul patrollies by die Voortrekkermonument, suidwes van die stad, afgeskop. Die monument was vir die duur van die naweek groen verlig om hoop uit te beeld en om die slagoffers van plaasaanvalle te gedenk.

Lede van oor die hele land heen het aan patrollies in hul eie gemeenskappe deelgeneem en op verskeie misdaadinsidente gereageer. In Bethlehem, in die Vrystaat, het die AfriForum-buurtwag die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bygestaan ​​in operasies om verskeie voortvlugtende misdadigers op te spoor. In Moreletapark, in Pretoria, het die plaaslike AfriForum-buurtwag ’n dwelmpartytjie in ’n openbare ruimte stopgesit. Verskeie gesteelde items en dwelmmiddels is op die toneel gevind. In Brakpan, in die ooste van Gauteng, het AfriForum-lede ook bystand verleen op die toneel van ’n brandende gebou.

“Ons is opreg dankbaar vir hierdie vrywilligers wat hulself onbaatsugtig toewy daaraan om hul gemeenskappe te help beskerm. AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidstrukture uit te brei en gehalte veiligheidsopleiding aan sy groeiende aantal patrolleerders te verhoog. Dit is tyd om die veiligheid van ons gemeenskappe in ons eie hande te neem,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings