|

Inwoners van Bloemfontein moet sélf oor vullisverwydering besluit

AfriForum het Donderdag (12 Oktober) ’n dringende beroep op die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit gedoen om geen vullisverwyderingsrekeninge te stuur aan inwoners wat aansoek gedoen het om die kansellasie van dié munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste nie. Meer as 600 huishoudings het reeds, met AfriForum se hulp, hiervoor aansoek gedoen omdat hulle, weens die metro se swak dienslewering, eerder voortaan van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik wil maak. Inwoners se aansoeke behels die kansellasie van die munisipaliteit se diens in dié verband en gevolglik ook kwytskelding van betaling daarvoor. Aansoekers is egter intussen ingelig dat die metro glad nie hul aansoeke gaan oorweeg nie. AfriForum het daarom dié aangeleentheid met die metro opgeneem en oorweeg nou om verdere stappe te doen.

“Baie huishoudings in Bloemfontein maak gebruik van privaat vullisverwyderingsdienste omdat Mangaung se dienslewering uitermatig swak en sporadies is. Munisipale vullisverwydering vind soms weke lank glad nie plaas nie en skep al vir etlike jare geweldige frustrasie onder inwoners. Mense het genoeg gehad van die onbevoegde metro en daarom wil AfriForum ’n alternatiewe oplossing bied,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake.

Coetzee voer aan dat die metro se verordening insake vullisverwydering voorsiening maak vir die inwoners om aansoek te doen vir kansellasie van dié munisipale diens en vir kwytskelding van betaling daarvoor.

“Die Mangaung-metro versuim in sy grondwetlike plig om volhoubare vullisverwydering aan sy inwoners te verskaf. Dit is daarom irrasioneel om te eis dat inwoners moet betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie. Die kansellasie van munisipale vullisverwyderingsdienste en die aanstelling van privaat diensverskaffers kan ’n volhoubare alternatief vir veral deeltitelskemas en komplekse wees omdat dié dienste beter en goedkoper sal wees.”

“Inwoners van Bloemfontein behoort te kan kies of hulle privaat of munisipale vullisverwyderingsdienste wil gebruik. Ons is bereid om die hof te nader en alles moontlik te doen sodat die inwoners van Bloemfontein hierdie reg kan uitoefen. Daar is verskeie privaat kontrakteurs wat reeds jare lank al hierdie diens aan inwoners lewer en oorgehaal is om hierdie diens in sy geheel by die metro oor te neem. Die enigste struikelblok is tans die dubbele betaling van vullisverwyderingsdienste, maar AfriForum beplan om hierdie struikelblok binnekort uit die weg te ruim,” benadruk Coetzee.

Volg hierdie skakel om aansoek te doen vir die kansellasie van munisipale vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein en om te registreer vir die lewering van hierdie diens deur AfriForum.

Soortgelyke plasings