|

AfriForum dankbaar Gautengse LUR vir Onderwys wil selfdood onder leerders bekamp

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan skep sedert 2017 bewusmaking van boeliegedrag en het reeds meer as 130 000 leerders en 180 skole landwyd bereik. Minstens 40 gevalle van beweerde selfdood in Gautengse skole is sedert die begin van die 2023-skooljaar aangemeld. AfriForum meen dat dit al lankal tyd was vir die Departement van Onderwys om in te gryp, maar is ook dankbaar dat daar beplan word om strategieë inwerking te stel om hierdie probleem te probeer bekamp.

AfriForum bied verskeie hulpbronne aan skole, onderwysers en ouers om boeliegedrag, kuberboeliery en selfdood in skole hok te slaan.

Die Val, ’n kortfilm met die doel om hoop te skep by jongmense, maak die teenboelieveldtogspan se hande sterker omdat leerders op hul eie tyd na die film kan kyk. Hierdie film is reeds vanaf 10 September (ook Wêreldselfdoodbewusmakingsdag) verlede jaar gratis op AfriForumTV beskikbaar. Die teenboelieveldtogspan het ook al skole landwyd met hierdie film besoek om skole bewus te maak van boeliegedrag en selfdood.

Hierdie film verken die uitdagings waarmee jongmense vandag gekonfronteer word en hoe hulle hul pad deur die onsekerheid van tienerskap en jong volwassenheid moet vind. Dit is ’n klein blik op mondigwording waar ’n 18-jarige matriekmeisie sukkel om staande te bly te midde van onder meer druk by die skool en op sosiale media. Dit is belangrik om die film te kyk sodat ’n mens bewus kan wees van boeliegedrag en die impak daarvan, om die tekens van depressie in jou medemens raak te sien en om te luister as ’n slagoffer van boeliegedrag of iemand met depressie of angs met hulle – verkieslik ’n betroubare volwassene, ’n onderwyser of ’n sielkundige – praat.

“Kuberafknouery, wat deesdae meer opskudding onder tieners veroorsaak, word ook in die film aangeraak. In die verlede was die boelies net by die skool, maar deesdae vind boeliery ook op selfone en sosiale media plaas,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Hoewel hierdie film ’n baie harde en hartseer tema aanraak, eindig dit positief deur hoop te skep. Die nodige oplossings word aan die kyker gebied: Watter kanale jy moet volg as jy geboelie word; dat dit belangrik is om met iemand te praat wat jy vertrou; dat dit oukei is om nie oukei te voel nie; asook die verskeie tekens wat ouers, onderwysers en kinders kan raaksien wanneer iemand geboelie word. Die film wys ook dat daar gevolge is vir die boelies wanneer hulle ander afknou,” sê Bräsler.

AfriForum se teenboelieveldtogspan en AfriForumTV was ook op Saterdag 9 September by die Big Red Barn in Irene ter ondersteuning van die #YouMatterWalk-veldtog waar byna 700 mense dié inisiatief ondersteun het ten bate van selfdoodbewusmaking.

Die volgende gidse kan ook gratis afgelaai word wat as hulpmiddele vir skole, onderwysers, leerders en ouers dien:

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelie-en selfdoodbewusmakingsveldtog, klik hier.

Soortgelyke plasings