|

AfriForum dien klagte by MRK in oor Hammanskraal-water

AfriForum het op 7 November 2019 ’n klagte by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien en ’n prokureursbrief aan die Tshwane-metro gestuur oor die watersituasie in Hammanskraal nadat inwoners van die Hammanskraal-omgewing al geruime tyd sonder water is.

Die MRK het AfriForum reeds in kennis gestel dat hulle besig is om die saak te ondersoek.

Kragtens die Grondwet het elke persoon die reg tot skoon, lopende water en die Metro is verantwoordelik om daardie diens te lewer. Daar moet ook voldoen word aan die minimum hoeveelheid (25 liter) wat per dag per inwoner gelewer moet word.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, lewer die Metro nie dié diens soos wat die wet bepaal nie. “Dit is die Metro se plig om skoon, lopende drinkwater aan die inwoners te voorsien. In die geval dat hulle dit nie meer kan doen nie, moet hulle op ander maniere water aan die gemeenskap voorsien totdat die probleem opgelos is en die diens weer soos normaal gelewer kan word.”

AfriForum gaan ook watertoetse in die area doen om te verseker dat die drinkwater wat aan die gemeenskap voorsien word vir menslike gebruik geskik is. Grobbelaar sê ook AfriForum hou die situasie fyn dop.

Soortgelyke plasings