Malema se tyd is verstreke; MRK moet nou hof toe

Nadat AfriForum en duisende van sy lede klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien het, gaan dié burgerregteorganisasie die saak fyn dophou om seker te maak dat die EFF-leier Julius Malema deur die MRK voor die Gelykheidshof gesleep word oor uitlatings wat die MRK as haatspraak en aanhitsing tot geweld verklaar het. Die MRK het op 8 November geskrewe kennis aan Malema gegee om binne tien dae die uitlatings terug te trek en daarvoor om verskoning te vra. Indien Malema dit nie sou doen nie, het die MRK verklaar om Malema Gelykheidshof toe te neem om ’n tussentydse interdik te bekom. Malema en die EFF het egter intussen in ’n mediaverklaring die MRK aangeval en gesê hulle weier om die opmerkings wat die MRK as haatspraak bestempel het, terug te trek. 

AfriForum het in Oktober 2022 klagtes by die MRK ingedien na aanleiding van Malema se uitlatings by die EFF se provinsiale vergadering in die Wes-Kaap. Malema het onder meer by die geleentheid gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van die rewolusionêre daad.” In samehang met die klagtes, het AfriForum sy meer as 310 000 lede gevra om ook klagtes via die organisasie se webwerf aan die MRK te stuur.

“Malema en die EFF glo duidelik dat hulle verhewe bo die wet is. Dit is ongelukkig grootliks die gevolg van Malema en die EFF wat al vir jare wegkom met eskalerende vlakke van haatspraak en aanhitsing tot geweld,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die MRK het hul woord gegee dat hulle vir Malema Gelykheidshof toe sal neem indien hy nie binne tien dae op hul eise reageer nie. Malema en die EFF het dit duidelik gemaak dat hulle nie hulself aan die MRK se eise steur nie, dus het die MRK nou ’n plig om hul belofte na te kom. AfriForum gaan hierdie saak fyn dophou,” sluit Van Zyl af.

Steun AfriForum in sy stryd teen haatspraak by www.StopMalema.co.za.

Soortgelyke plasings