|

AfriForum dien kommentaar in teen Johannesburg-metro se voortgesette uitbuiting van skole deur belastingverhogings

AfriForum het in Maart 2023 sukses in die Hooggeregshof in Johannesburg behaal toe die hof die handeling van die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit om die eiendomskategorie van onderwysinstellings weg te neem, ongrondwetlik verklaar het. Dit het op die 2022/23 finansiële jaar betrekking gehad en sou buitensporige belastingverhogings vir onderriginstellings beteken het. Tans blyk dit dat die metro ’n soortgelyke proses vir 2023/24 in die vooruitsig stel. AfriForum het dus kommentaar daarteen ingedien as deel van die metro se openbare deelnameproses oor beleid en tariewe.

In die kommentaar vereis AfriForum dat onderwysinstellings as ’n eiendomskategorie gehou word. Indien die metro suksesvol is met hul verandering sal openbare skole as eiendom vir openbare diens gekategoriseer word en onafhanklike skole as onderneming en kommersiële eiendomme. Dit sal veroorsaak dat ’n openbare skool met ’n waarde van R100 miljoen se eiendomsbelasting verhoog van R18 900 per maand tot ongeveer R113 400. ’n Onafhanklike skool met dieselfde waarde se belasting sal verhoog tot ongeveer R190 000 per maand.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, is hierdie optrede van die metro baie kommerwekkend. “Die Johannesburg-metro behoort die belangrikheid van skole raak te sien, te bewaar en te bevorder in plaas daarvan om hulself deur skole te probeer befonds. Hierdie optrede is kenmerkend van ’n desperate staat, wat bereid is om enigiets te probeer om fondse te verkry omdat hulle finansiële bestuur baie te wense laat.”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat ’n fokus van AfriForum is om gehalte onderrig te bevorder. “Dit sluit in dat onderwysinstellings teen uitbuiting deur munisipale owerhede beskerm word. Skole verkeer onder groot druk op die oomblik. Openbare skole kry beperkte finansiële hulp van die staat en privaat instellings is noodsaaklik omdat die staat nie voldoende infrastruktuur kan voorsien om aan die aanvraag te voldoen nie. Om skole aan meer finansiële druk te onderwerp, sal tot gevolg hê dat sommige moet sluit en ander op onderwysdienste sal moet besnoei, wat die gehalte van hulle onderrig in die gedrang sal bring. Dit is beslis in niemand se belang nie en dus moet hierdie herkategorisering en heffings teengestaan word,” het sy verklaar.

Soortgelyke plasings