|

AFRIFORUM DIEN KOMMENTAAR IN, VERWERP VOORGESTELDE GRONDHOFWETSONTWERP

AfriForum het vandag kommentaar ingedien om die Wetsontwerp op die Grondhof te verwerp. Dié wetsontwerp is daarop gemik om twee nuwe howe te skep: die Grondhof en die Grondappèlhof. Dié burgerregteorganisasie voer aan dat die voorgestelde wetsontwerp verwerp moet word en nie in sy bestaande formaat goedgekeur behoort te word nie. AfriForum beskerm en beywer sigself aktief vir eiendomsregte soos wat dit in artikel 25 van die Grondwet van Suid-Afrika gewaarborg word, en beveg enige poging wat dié regte aantas.  

’n Paar van AfriForum se hoofargumente sluit in: 

  • Die Grondhof moenie ’n billikheidshof wees nie. Vir regsekerheid behoort die Grondhof slegs ’n geregshof wees.  
  • Met verwysing na die verkiesing en aanstelling van regsbeamptes, moet daar nooit ’n oorbeklemtoning wees van die aspekte van ras en geslag nie.   
  • Die voorgestelde Grondhof moenie op informele grondslag werk nie. 
  • Die voorgestelde wetsontwerp sal meer dispute en regsuitgawes tot gevolg hê, asook verdere vertragings in die afhandeling van gronddispute.  
  • Dit maak geen sin nie om ’n gedeelte in te sluit wat diskresie toelaat om enige ontoelaatbare bewysstukke toe te laat.   
  • AfriForum teken beswaar aan teen die gedeelte wat in effek die werk van ’n  voorsittende regter aan ’n skeidsregter delegeer. Daar moet gereeld moeilike berekenings gemaak word en dan moet getuienis deur kenners gelei word. Die Hof moet die finale beslissing vel nadat dié getuienis aangehoor is.   
  • Die Grondappèlhof behoort nie uitsluitlike jurisdiksie te hê om appèlsake met die uitsluiting van die Hoogste Hof van Appèl aan te hoor nie.   
  • Die meerderheid van die aspekte wat gelys word, behoort ingevolge die Reëls van die Hof gehanteer te word, en nie deur ’n minister wat dit by wyse van regulasies promulgeer nie.    

“Die voorgestelde Grondhofwetsontwerp bevat ’n legio aspekte wat nie sin maak nie en misbruik kan word. AfriForum het ons saak baie duidelik in ons voorlegging gestel en hoop dat geregtigheid sal seëvier,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud.  

Soortgelyke plasings