|

Standerton-tak maak ’n verskil

AfriForum se Standerton-tak het op 21 Julie saam met die Lekwa Clean Up Crew gras gesny in Baumanstraat om die dorpsingang van Bethal en Morgenzon se kant af netjies te maak, en op 18 Julie het die tak ’n slaggatprojek aangepak ook in samewerking met die Lekwa Clean Up Crew. Hulle het besluit om op Beyers Naudéstraat te fokus omdat dit een van die besigste strate in die dorp is.

Tydens hierdie slaggatprojek is 65 sakke teer gebruik om slaggate in Beyers Naudéstraat op te vul. Dit bring die totale getal sakke teer wat net in Juliemaand gebruik is op 85 te staan. Verdere werk word by die kruising van Beyers Naudé- en Kroghstraat beplan waar die pad uiters sleg is.

“’n Mens kan by die dag die verskil in Standerton sien en dit is as gevolg van gewone mense wat inspring en self iets doen,” sê Leon Enslin, AfriForum se voorsitter van die Standerton-tak.

Die Standerton-tak het ook die Lekwa Clean Up Crew met hul skoonmaakprojekte gehelp deur vragte vullis op te laai en weg te ry.

“Inwoners kan nie meer bekostig om agteroor te sit nie, want die toestand van ons dorpe gaan nie verbeter as ons nie nou optree nie,” sluit Enslin af.

Raak betrokke by die Standerton-tak en help om ’n verskil te maak. Kontak Hennie Bekker by 084 905 6415.

Soortgelyke plasings