AfriForum dien kommentaar op nuwe mynwaterbestuursbeleid in


AfriForum het op 2 November 2017 kommentaar ingedien oor die nuwe mynwaterbestuursbeleid wat die departement van water en sanitasie (DWS) in werking wil stel.
Dié beleid het ten doel om die DWS se nuwe posisie rakende mynwaterbestuur, insluitende suurwaterdreinering, uiteen te sit en voorsiening te maak vir maatreëls vir die beskerming van waterhulpbronne wat geraak word deur voornemende, operasionele en historiese mynbouaktiwiteite wat ’n negatiewe impak op watergehalte kan hê.
Die burgerregte-organisasie het onder meer die volgende kommentaar ingedien:

  • Die voorneme van Edna Molewa, minister van water en sanitasie, om die nege opvanggebiedbestuursagentskappe na een te verminder, is in teenstelling met die bepalings van hoofstuk 7 van die Nasionale Waterwet (wet no. 36 van 1998). Dié wet bepaal dat waterhulpbronbestuur na streeksvlak gedelegeer en plaaslike gemeenskappe by waterhulpbronbestuur betrek moet word.
  • Die DWS se huidige versuim om watergehalte weens finansiële beperkings gereeld te moniteer, maak dit onmoontlik om die land se skaars waterbronne te bestuur. Dié versuim moet deur die nuwe beleid aangespreek word.
  • Die DWS se onvermoë om die nienakoming van wetgewing in die mynbedryf aan te spreek en wetlike vereistes af te dwing – byvoorbeeld die verontagsaming van watergebruikslisensies en die regulasies vir die gebruik van water vir mynbou en verwante aktiwiteite – moet deur die beleid aangespreek word.
  • Teenkanting teen die permanente opskorting van die watertribunaal voordat daar ’n alternatiewe administratiewe geskilbeslegtingsmeganisme in plek is. Dit sal plaaslike inwoners daarvan weerhou om ’n invloed op die bestuur van waterkrisisse in hulle omgewing te hê.

“Die gehalte van waterhulpbronne en die bestuur daarvan in ’n waterskaars Suid-Afrika is ononderhandelbaar. Die uitdaging is steeds dat, hoewel daar toepaslike waterwetgewing en -regulasies in plek is, dit in die geval van mynboubedrywighede nie altyd behoorlik gemoniteer en afgedwing word nie. Dit is daarom belangrik dat die mynwaterbestuursbeleid doeltreffend moet wees,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.

AfriForum sal binnekort inligting vrystel oor die hoeveelheid myne wat sonder waterlisensies funksioneer.
SMS jou naam na 45354 (R1) om AfriForum se aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings