AfriForum dring aan op deursigtigheid oor Suid-Afrika se kontantkoei-skenkings aan Kuba

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) ingedien waarin omvattende rekords versoek word van alle skenkings wat die Suid-Afrikaanse regering oor die afgelope 20 jaar aan Kuba gemaak het.

Dié besluit kom nadat berig is dat R120 miljoen deur die Departement van Verdediging vermors is nadat studente teen groot koste na Kuba gestuur is vir mediese opleiding. Die totale koste van die mediese opleiding in Kuba was 136% duurder as wat dit sou wees as dieselfde opleiding in Suid-Afrika sou plaasvind. In AfriForum se PAIA-aansoek versoek die organisasie verder transaksiedatums van elke skenking, ’n deeglike uiteensetting van die doel of rede vir elke skenking, enige korrespondensie of dokumentasie wat verband hou met die besluitnemingsproses oor die skenkings en ’n duidelike aanduiding van waar die fondse vir die skenkings vandaan gekom het.

Hierdie aansoek kom te midde van groot weerstand teen die Suid-Afrikaanse regering se beplande R50 miljoen-skenking aan Kuba in 2022. AfriForum het dié skenking suksesvol gevries en die organisasie wag tans op uitspraak in ’n opvolgsaak wat sal poog om hierdie skenking finaal te stuit.

“AfriForum verwag binnekort die hofuitspraak oor die R50 miljoen-skenking. Die organisasie sal voortgaan om verkwistende uitgawes deur die Suid-Afrikaanse regering te bekamp. ’n Regering wat nie huiwer om miljoene aan sy Kubaanse vriende te skenk nie terwyl hy nie eens kan bekostig om sy eie ligte aan te hou nie.  Die regering kan nie kritieke departemente onderhou nie weens die gebrek aan fondse, maar kan gemaklik miljoene skenk? Dit kan eenvoudig nie werk nie,” sê Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum.

“Die verhouding tussen die Kubaanse regering en die Suid-Afrikaanse regering is groeiende belastinggeld-stortingsterrein. Besluite word geneem op grond van geldwaarde, nie op die beste belange van die land of sy burgers nie. Dit is skandelik dat dit vir die regering belangriker is om sy buitelandse vriende te verryk as om dringende kwessies op eie bodem op te los,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings