|

AfriForum eis antwoorde oor beoogde polisiestaat

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa te rig waarin die burgerregteorganisasie sy kommer uitspreek oor die totstandkoming van die Nasionale Veiligheidsraad en Suid-Afrikaanse Nasionale Veiligheidsekretariaat.

Volgens die Staatskoerant van 10 Maart 2020 is dié instellings reeds deur pres. Ramaphosa gemagtig en gepromulgeer.

Die Nasionale Veiligheidsraad bestaan onder andere uit die Ministers van Verdediging en Militêre Veterane, Polisie, asook Justisie en Korrektiewe Dienste.

Die mandaat van dié raad is om nasionale sekuriteit in Suid-Afrika te verseker en te reguleer. Die raad moet voorts ook die werksaamhede van alle sekuriteitsdienste en wetstoepassingsowerhede koördineer en inligtingsverslae bekom.

“Die totstandkoming en promulgasie van dié strukture word deurgevoer in ’n tyd wat die land ’n krisis beleef en die ekonomie ernstig onder die COVID-19-pandemie ly. Dit skep die gevoel dat die regering die situasie misbruik om ongrondwetlike magstrukture in plek te stel terwyl die res van die land se aandag op COVID-19 en die regulasies van inperking gefokus is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

Cameron sê voorts dan indien die huidige strukture in al die veiligheidsmagte en afdelings in die staat bestuur word soos wat dit veronderstel is om bestuur te word, sou dit nooit eers nodig gewees het om so iets te oorweeg nie.

In die skrywe aan pres. Ramaphosa versoek AfriForum onder meer duidelikheid rondom die doel vir die totstandkoming van dié strukture, die tydperk wat die strukture sal bestaan en op watter wetgewing die president steun om die strukture daar te stel.

AfriForum dring voorts ook aan dat die promulgasie van dié strukture op dergelike wyse herroep word, aangesien dié strukture die tafel dek om Suid-Afrika in ’n polisiestaat te verander en die geleentheid skep vir verreikende magsvergrype.

“Volgens AfriForum, asook ’n regsmening wat die organisasie ingewin het, is die instelling van dié strukture ongrondwetlik, aangesien die Grondwet duidelik uiteensit oor hoe daar met inligtingsdienste in diens van die staat omgegaan moet word – juis as gevolg van die risiko vir misbruik. Hierdie strukture skep vir die staat die perfekte geleentheid om toenemend persoonlike inligting van landsburgers in te samel en onder die dekmantel van ‘nasionale veiligheid’ te gebruik,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Indien die president nie gunstig op die skrywe reageer nie, behou AfriForum die reg voor om hom tot die Konstitusionele Hof te wend ten einde die grondwetlikheid van die strukture te toets.

Soortgelyke plasings