|

Rustenburg-tak help om ou begraafplaas skoon te maak

AfriForum se Rustenburg-tak het op 19 Junie ’n suksesvolle aksie gehou deur die ou begraafplaas in Kockstraat skoon te maak. Tien toegewyde individue – wat taklede insluit – het gehelp om dié begraafplaas weer netjies te maak. Tydens die skoonmaakproses is twee stortbakke vol tuinvullis en bourommel verwyder. Hierdie inisiatief is deur die N.G. Kerk Moedergemeente Rustenburg vir die Konsentrasiekampdag-herdenking geïnisieer.

“Dié ou begraafplaas is ’n historiese en betekenisvolle plek vir ons gemeenskap. Daarom het die Rustenburg-tak saam met ander rolspelers verantwoordelikheid geneem om die begraafplaas tot sy vorige glorie te herstel. Die skoonmaakaksie is ’n bewys van ons toewyding om ons erfenis en kultuur te beskerm en te bewaar. Ons bedank graag die volgende ondernemings en organisasies wat die projek moontlik gemaak het: Crazy Skips se skenking van ’n stortbak, die Nederduitsch Hervormde Kerk, Arter Suppliers and Maintenance vir hul reëlings en hulp en die Voortrekkers Jeug wat ook hand bygesit en met die opruimingswerk gehelp het,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons is trots op die betrokkenheid van ons gemeenskap en die positiewe impak wat hierdie projek op die begraafplaas het. Saam kan ons ’n verskil maak en ’n omgewing skep waar ons gemeenskap se nalatenskap gekoester en beskerm word. Hierdie aksie is ’n voorbeeld van samewerking en gemeenskapsgees,” sluit Viljoen af.

Die publiek word aangemoedig om by dié tak betrokke te raak om sodoende ’n verskil in hul omgewing te maak: Skakel Dawie Conradie by 082 930 9905.

Soortgelyke plasings