|

AfriForum eis vorderingsverslag van SAPD oor misdaad by rioolwerke in Klerksdorp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs ’n hofbevel bekom waarin die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit verplig is om die rioolwerke in Klerksdorp te herstel. Tydens die herstelproses het dit duidelik geword dat die rioolwerke deur rowers geplunder is om onder meer elektriese kabels en pompe te steel. Die munisipaliteit het MAS-nommers aan AfriForum deurgegee waar die munisipaliteit hierdie insidente van diefstal rapporteer het, sommige van hierdie sake sloer al vir die afgelope drie jaar.

Die organisasie het na aanleiding hiervan op 6 Oktober ’n aanmaningsbrief oor die misdaad by die Klerksdorp rioolwerke aan die Noordwes Provinsiale Kommissaris van Polisie en aan die SAPD in Klerksdorp beteken. In hierdie brief eis AfriForum dat die SAPD ’n skriftelike onderneming sal maak om in te gryp en die rioolwerke sal beskerm sodat die nodige herstelwerk en opknappingswerk kan plaasvind. AfriForum het ook gevra dat die SAPD binne tien dae ’n vorderingsverslag aan die organisasie sal voorsien in verband met die sake wat steeds hangend is.

Indien die SAPD nie by die sperdatum hou nie, sal hulle ook gevoeg word by die opkomende hofsaak teen die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit oor die swak toestand van die rioolwerke. AfriForum wil hierdeur verseker dat die rioolwerke weer in ’n werkende toestand kom en dat misdaad op die terrein beperk word. Hierdie onderneming wat by die SAPD aangevra word vat geen verpligting weg van die munisipaliteit om te verseker dat hulle die rioolwerke in ’n werkende toestand sal kry soos die hof beveel het nie. AfriForum wil egter alles in hull vermoë doen om die sukses van die aansoek te verseker.

“Die toestand waarin die rioolwerke tans is, is ’n skreiende skande. Rou riool loop in die waterbronne asook in die veld in. Die munisipaliteit het wel ’n poging aangewend om die werke te herstel, maar hulle kon nie die misdaad beveg nie. Dis nou in die hande van die SAPD om die misdadigers te arresteer en aan die pen te laat ry,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak vir Frans Roos by 083 378 8826 om by AfriForum se Klerksdorp-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings