|

Parys-waterkrisis: AfriForum-tak verkla munisipaliteit by MRK

Die AfriForum-tak in Parys het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vandag by die Menseregtekommissie (MRK) verkla omdat dié munisipaliteit reeds jare lank al in gebreke bly om die gemeenskap van genoegsame en skoon water te voorsien. Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg soos voorgeskryf in Artikel 27 van die Grondwet en die lewering daarvan is ’n plig wat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit jammerlik versuim.

Wat die saak vererger, is die feit dat Parys op die walle van die dorp se primêre waterbron, die standhoudende Vaalrivier, lê. Die water moet net gesuiwer word en aan die gemeenskap voorsien word. Dit is egter presies waar die probleem lê. Weens onbevoegdheid en onwilligheid van die munisipaliteit is die watersuiweringswerke in ’n haglike toestand en kan daar nie in die aanvraag voorsien word nie. Voorts bars daar feitlik daagliks ’n waterpyp wat deur onbevoegde kontrakteurs herstel word. Daar is boonop ’n toenemende agterstand ten opsigte van herstelwerk en dit lei onder meer daartoe dat krane opdroog en die gemeenskap voortdurend ly onder die onbevoegdheid van die munisipaliteit.

“Ek hoop van harte dat die Menseregtekommissie gehoor sal gee aan hierdie noodkreet wat AfriForum namens die inwoners van Parys gerig het. Dit is onmenslik om inwoners te ontneem van iets waarsonder geen mens kan leef nie en daarom is dit die Menseregtekommissie se plig om spoedig op te tree,” eis Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. Kontak Schalk Burger by 081 392 2071 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings