|

Thabazimbi-waterkrisis bereik breekpunt – AfriForum eis dringende optrede

Die voortslepende waterkrisis in die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit het nou ’n breekpunt bereik. AfriForum het daarom in ’n amptelike skrywe aan dié munisipaliteit tot eerskomende Dinsdag 26 September tyd gegun om werkbare stappe vir ’n regrukplan te lewer.

Volgens Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg-streek, sukkel inwoners in Thabazimbi en ander dorpe in hierdie munisipaliteit, al jare lank met swak watervoorsiening.

“Water is ’n basiese behoefte én ’n reg, maar tog moet die nagenoeg 90 000 inwoners in hierdie munisipaliteit dikwels met sporadiese watervoorsiening tevrede wees. Inwoners moet selfs meer opdok om water aan te koop. Riolering bied probleme en ondernemings, skole, kerke en tehuise vir bejaardes trek veral swaar,” verduidelik Van der Walt.

Ten spyte van verskeie beloftes wat die munisipaliteit al in die verlede gemaak het, is watervoorsiening steeds nie uitgeklaar nie. “Burgemeester Motsei Mogapi het in Mei vanjaar, tydens haar 2023/2024-begrotingsrede benadruk dat die munisipaliteit ’n verantwoordelikheid teenoor die inwoners het om te verseker dat inwoners volhoubare dienslewering van hoë gehalte ontvang. Boonop het sy erken dat die tekort aan dienslewering groot uitdagings bied en tog sien inwoners steeds geen verbetering ten opsigte van veral die waterprobleme in dié munisipaliteit nie,” sê Van der Walt. Mogapi het onder meer ook in Junie vanjaar, tydens die oorhandiging van waterinfrastruktuur-projekte deur Anglo American Platinum (Amplats) aan Thabazimbi, self gesê dat water ’n mensereg is en dat inwoners van Thabazimbi deur dié projek “waardigheid” sal kry. “Dit is tyd dat daar aan hierdie beloftes gestand gedoen word,” meen Van der Walt.

AfriForum eis nou dat die munisipaliteit ’n duidelike uiteensetting van die opknappingsprojek sowel as tydlyne daarvoor uiteen moet sit. “As ons nie teen die vasgestelde datum terugvoer kry nie, gaan AfriForum self ingryp om onder meer die Thabazimbi-reservoirs te herstel, instandhouding te doen en die pypleidings na die dorp te versien. Ons gemeenskap hier in Thabazimbi is meer as bereid om dinge self te doen. Water mag nie van mense weerhou word nie. AfriForum staan slaggereed en het alreeds ’n aksieplan gereed om in te gryp en die dorp se waterkrisis op ’n volhoubare wyse te takel,” sluit Van der Walt af.

Soortgelyke plasings