|

AfriForum én die gelukbringer Matteus bring raad oor boelies aan meer as 1 000 leerders van Laerskool Kenmare

AfriForum se Teenboelieveldtogspan en die span se gelukbringer, Matteus, het die afgelope Vrydag (2 Augustus) raad oor boelies én tonne pret gebring aan die meer as 1 100 leerders van Laerskool Kenmare in Krugersdorp. Dié inligtingsessie vorm deel van AfriForum se nasionale veldtog waardeur kinders ingelig word oor die verskynsel van boeliegedrag wat veral skoolgaande kinders oor die wêreld heen raak.

“Bewusmaking oor boeliegedrag is belangrik omdat dit verskeie kritieke aspekte van die skoolomgewing en leerderwelsyn beïnvloed,” verduidelik Laurentius Conradie, departementshoof van Laerskool Kenmare. Conradie voer aan dat kwessies soos leerders se veiligheid en welsyn, geestesgesondheid, akademiese prestasies, verhoudings en sosiale vaardighede alles op die kort en lang termyn deur boeliegedrag beïnvloed kan word.

Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys, bied die inligtingsessies op ’n unieke en kindervriendelike wyse aan, en lig kinders onder meer in oor die gevare van boeliegedrag, hoe om boeliegedrag uit te ken en hoe kinders hulself teen afknouery kan staal. Die boodskap steun sterk op die Bybelse konsep van geestelike wapenrusting wat as’t ware “aangetrek” kan word in die stryd teen afknouery. “Hierdie skoleprojek is vir AfriForum van kritieke belang vir vandag en die toekoms juis omdat veilige skole ’n noodsaaklike deel van veilige gemeenskappe is,” verduidelik Scheepers.

Wat is boeliegedrag?

Boeliegedrag is skadelike of aggressiewe optrede wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die boelie. Die Noorse sielkundige en vooraanstaande kenner van boeliegedrag, Dan Olweus, identifiseer die volgende drie kenmerke van afknouery:

  • aggressiewe aksies met die doel om ander kinders seer te maak
  • ’n herhaling van hierdie aksies oor ’n tydperk
  • ’n wanbalans van mag wat die slagoffer hulpeloos laat sodat hy nie homself doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie

Volgens Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap, is talle ouers onbewus daarvan dat hul kind moontlik die slagoffer van afknouery in die skoolomgewing is. “Kinders wil ook nie altyd hul ouers vertel dat hulle afgeknou word nie omdat hulle vrees vir die boelie se teenreaksie of omdat hulle skaam of verleë is daaroor. Daar kan baie redes wees waarom jou kind die afknouery geheim hou. Daarom is dit jou werk as ouer om ’n oog én ’n oor op jou kind te hou. Wees bewus!” sê Bräsler.

Meer oor AfriForum se Teenboelieveldtog

AfriForum bemagtig skoolleerders reeds die afgelope sewe jaar lank landwyd met sy Teenboelieveldtog deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van gemeenskappe deurdat “die boompies gebuig word, terwyl hulle nog jonk is,” meen Bräsler.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings