|

AFRIFORUM SE NOORDSTREEKBUURTWAGTE NEEM AAN NASIONALE PATROLLIE DEEL

AfriForum se buurtwagte in die noordstreek (Gauteng, Limpopo en Mpumalanga) het op 30 Julie 2021 in hul onderskeie gebiede aan dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies aangepak.  

Altesaam 660 AfriForum-lede in Gauteng (331), Limpopo (81) en Mpumalanga (248) en 41 ander instansies het in totaal 30 169 km in 393 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 16:00 op Vrydag 30 Julie begin en tot 06:00 op Saterdag 31 Julie geduur.  

Die buurtwagte in Gauteng, wat met 191 voertuie ’n totaal van 13 900 km afgelê het,  het hulp verleen tydens 31 voorvalle in dié provinsie. Hierdie voorvalle sluit in die vastrek van roekelose en dronkbestuurders, die voorkoming van gewapende rooftogte en verskeie padblokkades waar mense vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.   

In Limpopo het 64 voertuie ’n totaal van 3 132 km tydens die patrollie afgelê. Hulp is ontbied ná huisbrake plaasgevind het, terwyl moontlike ander huisbrake ook voorkom is. Daar was ook ’n poging tot voertuigdiefstal wat suksesvol in samewerking met die SAPD gefnuik is.  

In Mpumalanga het 248 vrywilligers ’n totaal van 13 137 km afgelê en in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies 15 voorvalle suksesvol hanteer.  

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se noordstreekbuurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek. “Ek wil ook graag die volgende groepe bedank vir hulle bystand tydens hierdie patrollie en dat ons altyd op hulle samewerking kan staatmaak: Die Heritage Protection Group (HPG), die Rural Safety Police, die SAPD, onderskeie GPF-groepe, asook talle sekuriteitsmaatskappye.”  

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het die buurtwaglede vir hulle onbaatsugtige diens bedank. “Ons sien deur aksies soos hierdie hoe gemeenskappe professioneel en gedissiplineerd – binne die raamwerk van die wet – eienaarskap van hulle eie veiligheid neem en doelgerig ’n netwerk van samewerking vestig om daardeur hulle voorspoedige voortbestaan te verseker. Misdadigers onttrek hulself van ’n gemeenskap wat sigbaar en paraat is en kan saamwerk.” 

“Nasionale patrollies het ’n groot impak op die bekamping van misdaad in die omgewing en daar word afnames in misdaad tydens hierdie operasies aangeteken. Dit speel ’n reuse rol om mense in die provinsie te beveilig,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke en help om jóú dorp te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings