|

Kathu-tak verskuif radiotoring, verbeter radio-opvangs vir brandweer

AfriForum se Kathu-tak het, op versoek van die Gamagara-nooddiens in dié Noord-Kaapse dorp, ingegryp om ’n radiotoring by die stasie se beheerkamer op te rig. Dit volg nadat verwoestende brande die toring, wat noodsaaklik is vir radiokommunikasie onder nooddienste hier, beskadig het. Brande in dié omgewing het die afgelope paar maande ook duisende hektaar se grasvelde verwoes en miljoene rande se skade aangerig.

Die plaaslike brandweer het by AfriForum aangeklop om hulp toe dit duidelik word dat radiokommunikasie sedert die brande ernstig verswak het en die reikwydte van die radio’s ook sedertdien uiters beperk is.

Die kommunikasietoring het oorspronklik by die ingang van die Kathu-gholfbaan, naby die beheerkamer van AfriForum se Kathu-buurtwag, gestaan. Johan Snyman, voorsitter van die Kathu-tak, en Werner Strauss, AfriForum se koördineerder vir die Noord-Kaap, het die toring met die hulp van kundiges van die masjinerieverhuringsmaatskappy Eazi Access en Rhino Security, afgebreek om na die Kathu-brandweerstasie te verskuif. AfriForum-taklede het op 10 Oktober ingespring om dié toring by die stasie op te rig.

Volgens Strauss was die verskuiwing van dié 18 meter hoë toring, ’n reusetaak. Die toring bestaan uit drie dele wat elk ongeveer 6 meter lank is. Dit is in ’n soliede sementvoetstuk geanker en strek, ná oprigting, nagenoeg 18 meter in die lug in.

“Die nuwe toring sal die opvangs van die radio’s aansienlik verbeter en sodoende ook die kommunikasie tussen die verskillende rolspelers wat die netwerk gebruik. Daarbenewens sal dit ook ons lede in staat stel om direk met Gamagara-nooddienste in verbinding te tree en enige mediese noodgevalle, brande en ongelukke doeltreffend te rapporteer,” verduidelik Strauss.

AfriForum bedank almal wat die oprigting van die toring moontlik gemaak het: Eazi Access Kathu vir die gebruik van hul Cherry Picker-masjien; Rhino Security Kathu vir hul mannekrag en die gebruik van gereedskap; Hanmag Crane Hire vir die gebruik van toerusting; en Kathu Pawnshop vir die gebruik van hul sleepwa vir die vervoer van die toring.

Soortgelyke plasings