| |

AFRIFORUM EN KGETLENGRIVIER BESORGDE INWONERS WIL MUNISIPALE BESTUURDER LAAT TOESLUIT; DIENSTEMAATSKAPPY BEKENDGESTEL

AfriForum en lede van die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat hulle hofstukke gaan beteken op sowel die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit as Joseph Mogale, die munisipale bestuurder van dié munisipaliteit. Dié hofaksie het ten doel om uitvoering te gee aan die hofbevel waarin die Noordwes Hooggeregshof in Mmabatho ’n opgeskorte vonnis van 90 dae tronkstraf aan Mogale opgelê het omdat hy en die munisipaliteit na bewering dieselfde hofbevel geminag het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel het die KBI met die opstel van die hofstukke gehelp en ondersteun dié organisasie met die regsproses.

Die hof het reeds op 18 Desember 2020 ’n interimbevel gemaak dat die KBI sekere van die water- en riooldienste in die omgewing van Koster en Swartruggens kan oorneem omdat die munisipaliteit dit al jare lank agterweë laat. Die interimbevel is op 12 Januarie 2021 by wyse van ’n skikking tussen die partye gefinaliseer, wat ’n bevel van die hof gemaak is. Die KBI het hulle aanvanklik na die hof gewend omdat watervoorsiening in dié dorpe gebrekkig of afwesig was, en omdat drinkwater met onbehandelde rioolvuil besoedel is.

Die hof het verder in die bevel tronkstraf aan die munisipale bestuurder opgelê indien hy of die munisipaliteit nie bepaalde vereistes binne ’n sekere tydperk nakom nie. Dit sluit in dat –

  1. die storting van rou riool in die Elands- en Kosterrivier binne tien werksdae vanaf die datum van die bevel opgeklaar word en dat die munisipaliteit en munisipale bestuurder alle nodige stappe sal doen om te verseker dat rou riool nie in dié riviere of op die grond rondom die onderskeie rioolwerke by Koster en Swartruggens gestort word nie;
  2. die munisipaliteit onmiddellik moet ophou om pype, slote of vore te gebruik om rou riool van Koster en Swartruggens na die riviere te herlei; en
  3. die munisipale bestuurder of munisipaliteit binne 11 werksdae vanaf die datum van die hofbevel ’n verslag moet saamstel oor stappe wat hulle gedoen het om die storting van rou riool in die riviere te verhoed en hoe hulle beplan om dit in die toekoms te voorkom.

“Dit blyk dat sowel die munisipaliteit as die munisipale bestuurder versuim het om aan al dié vereistes uitvoering te gee en AfriForum en die KBI wil nou toesien dat die opgeskorte vonnis teen die munisipale bestuurder afgedwing word. Die owerhede se skynbare volgehoue versuim om die hofbevel te eerbiedig, is ’n bedreiging vir die oppergesag van die reg en ons kan nie toelaat dat hulle bloot sonder enige gevolge daarmee voortgaan nie,” sê adv. Nel.

“Die gemeenskap dring daarop aan dat die munisipaliteit verantwoording moet doen vir die swak toestand waarin ons dorpe en riviere is. Die afdwing van hierdie opgeskorte vonnis is ongelukkig die enigste manier waarop ons kan verseker dat dié tipe wanbestuur stopgesit word. Ons het die hof al verskeie kere genader omdat ons al jare lank sonder behoorlike dienslewering moes klaarkom en die besoedeling van die rivier en die omgewing onuithoudbaar geword het. Besoedeling soos hierdie het verreikende sosiale en ekonomiese gevolge vir die hele streek, asook ’n uiters nadelige effek op die mense wat in die omgewing woon. Ons kan eenvoudig nie meer toelaat dat ons dorpe weens die munisipaliteit se wanbestuur agteruitgaan nie en het besluit om self binne die raamwerk van die reg in te gryp,” sê Carel van Heerden, ’n verteenwoordiger van die KBI.

Pionier

AfriForum het ook tydens die verrigtinge die stigting van Pionier Dienstemaatskappy aangekondig.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is Pionier ’n maatskappy sonder winsoogmerk wat gestig is om gemeenskapsbetrokkenheid op ’n unieke wyse te bevorder in samewerking met munisipaliteite. “Dié maatskappy is die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Vanweë AfriForum se werk en betrokkenheid in gemeenskappe regoor die land is ons deeglik bewus van die swak gehalte van munisipale dienste waarmee mense moet klaarkom – veral op die platteland. Pionier is gestig om hierdie stand van sake op te los. Dít kan gedoen word deur munisipale dienste self te verrig namate munisipale dienslewering om verskeie redes al hoe meer agteruitgaan. Die KBI en gemeenskappe van Koster en Swartruggens het nou vir ander gemeenskappe gewys dat munisipale dienste wel in gemeenskappe se eie hande geneem kan word en ons hoop dat Pionier die voertuig sal wees waarmee gemeenskappe toenemend selfonderhoudend kan word.”

Die hoofdoelwitte van die maatskappy is om selfbestuurvermoë en infrastruktuur te ontwikkel om te verseker dat volhoubare en hoëgehaltediens hoofsaaklik op die volgende gebiede gelewer kan word:

  • bestuur van waterhulpbronne en die lewering van skoon drinkwater;
  • rioolbestuur;
  • vullisverwydering en -terreinbestuur; en
  • elektrisiteitsvoorsiening.

“’n Verdere belangrike fokus sal wees om plaaslike sakeondernemings, spesialiste en persone te betrek en kundiges in die gemeenskap te koöpteer om op verskeie maniere dienste aan gemeenskappe te lewer. Die uiteindelike doel is om vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor te vestig sodat gehalte- munisipale dienste aan gemeenskappe gebied kan word,” sê Kruger.

Soortgelyke plasings