| |

AFRIFORUM SE CENTURION-TAK SKENK HERWINNINGSHOKKE AAN AKADEMIA

Die AfriForum-tak in Centurion is voortdurend besig om die omgewing te verbeter en die gemeenskap te versterk. Dié tak het in samewerking met AfriForum se omgewingsake-afdeling besluit om herwinningshokke aan Akademia te skenk om te help om studente bloot te stel aan die voordele van herwinning en die impak daarvan op die omgewing.

Hierdie is die derde herwinningsprojek waarby die tak betrokke is. Die tak het vyf hokke geskenk wat onderskeidelik gebruik kan word om papier, plastiek en glas te herwin. Die tak wil mense graag aanmoedig om in hul eie huishoudings te herwin en van die reeds bestaande herwinningspunte gebruik te maak.

“Die tak is trots daarop om deel te kon wees van die vestiging van ’n derde herwinningspunt van dié soort in Centurion. Ons glo dat ons almal stadig maar seker saam ’n verskil maak,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

“AfriForum sal voortgaan om projekte aan te pak om die gemeenskap en omgewing vir almal te verbeter. Ons is dankbaar vir die tak en elke rolspeler wat help om Centurion ’n veiliger en beter plek vir almal te maak. As ’n gemeenskap saamstaan kan ons baie vermag,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan om deur die jaar verskeie groot projekte aan te pak en wil die gemeenskap graag uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings