|

AfriForum eis onmiddellike herroeping van die bevelvoerder van Suid-Afrikaanse magte in Mosambiek

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis ’n onmiddellike en vinnige ondersoek na skynbare oorlogsmisdade in Mosambiek. Dit volg op die sirkulasie van ’n video wat soldate uitbeeld wat lyke op ’n brandende hoop rommel gooi, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat foto’s neem van die groteske toneel kan ook gesien word. AfriForum het ook in ’n brief aan die minister van Verdediging, Thandi Modise, geëis dat die bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse magte in Mosambiek onmiddellik herroep word om oor die skokkende gebeure te getuig.

Volgens die organisasie is dit nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse soldate van menseregteskendings beskuldig word nie. Verskeie SANW-soldate is van seksuele wangedrag tydens operasies in die DRK beskuldig. Dan was daar ook die geval van Collins Khosa, wat in sy eie agterplaas hier op eie bodem deur soldate doodgeslaan is.

“Ons is bewus daarvan dat die SANW gesê het die voorval word deur die magsbevelvoerder van die SAOG-sending in Mosambiek ondersoek, maar ons voel dit is eenvoudig nie genoeg nie. AfriForum konsulteer tans met ons regspan om ook ander moontlike optrede te ondersoek,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Waarskuwing: Video kan sensitiewe kykers ontstel

Soortgelyke plasings