|

AfriForum gereed vir voorlegging oor BELA-wet – sal druk op Gautengse skole om meer leerders in te neem, teenstaan

AfriForum sal op Dinsdag 15 November 2022 ’n mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wet) aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys doen. Dit geskied in aansluiting by die uitgebreide kommentaar wat in Junie vanjaar hieroor by dié komitee ingedien is.

AfriForum se standpunt is dat van die voorgestelde wysigings daarin ongrondwetlik is en Afrikaanse moedertaalonderrig ernstig bedreig. Indien hierdie wysigings geïmplementeer word, sal dit volgens AfriForum ’n onherstelbare, eensydige en permanente verbreking deur die ANC-regering van die grondwetlike skikking van 1994 wees. Daar word dus versoek dat die wetsontwerp nie in sy huidige vorm aanvaar word nie, maar omvattend hersien word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, dui die uitgebreide regsmening wat deel van dié organisasie se kommentaar uitmaak daarop dat daar vele redes is waarom die wetsontwerp verwerp moet word. “Vir die Afrikaanse gemeenskap is die voorstelle dat die provinsiale onderwyshoofde voortaan die finale sê oor die toelatings- en taalbeleid van skole moet hê, die mees aanvegbare aspek hiervan. Nie alleen kom dit neer op onaanvaarbare toenemende magsentralisasie in die hande van die staat nie, maar dit verbreek ook die huidige samewerkingsmodel tussen die staat en skoolgemeenskappe, soos verteenwoordig deur demokraties verkose beheerliggame van skole.”

AfriForum neem verder met groot kommer kennis van die druk wat tans op skoolhoofde in Gauteng geplaas word om meer leerders vir 2023 in te neem as waarvoor die skole se kapasiteit voorsiening maak. “Die reg van ouerbeheerliggame om besluite oor toelating te neem word skynbaar reeds in die provinsie geïgnoreer asof die wetsontwerp reeds aanvaar en geïmplementeer is. Die oorlading van skole met leerders skep groot risiko’s vir die gehalte van onderrig en selfs ook vir die fisiese veiligheid van die kinders. Dit is onaanvaarbaar en net nog ’n poging van die provinsiale onderwysdepartement om hulle onvermoë om voldoende skole te voorsien, te probeer verbloem. Die land se jeug kan nie aanhou om die prys vir wanbestuurde onderwysowerhede te betaal nie,” het Bailey gesê.

AfriForum is gereed om skole wat dié soort druk ervaar, of geïntimideer word om hulle Afrikaanse taalbeleid aan te pas, van regshulp te voorsien.

Soortgelyke plasings