|

Delareyville-waterkrisis: AfriForum gee munisipaliteit 48 uur om watertoevoer te herstel

Die uurglas vir die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit loop vinnig uit nadat die burgerregteorganisasie AfriForum dié munisipaliteit gister 48 uur kans gegee het om watertoevoer na Delareyville te herstel. Benewens die herstel van watertoevoer na dié dorp, eis AfriForum ook dat dié distriksmunisipaliteit dringend aksieplanne moet opstel wat die oplossing van die voortslepende waterkrisis, die voorkoming van soortgelyke probleme in die toekoms sowel as die opknapping van waterinfrastruktuur uiteensit. Indien die munisipaliteit nie aan dié eise gehoor gee nie, sal AfriForum verdere optrede oorweeg.

AfriForum se ultimatum volg nadat verskeie klagtes ontvang is van inwoners van Delareyville wat al weke lank sonder water sit. Watertekorte hier is ’n deurlopende probleem en AfriForum het al verskeie kere, sonder sukses, skrywes aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit gerig. Hul laksheid het AfriForum nou gedwing om die saak na die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit te neem om by dié krisis in Delareyville in te gryp. Delareyville is die hoofsetel van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit en ressorteer saam met vier ander plaaslike munisipaliteite onder die bogenoemde distriksmunisipaliteit met sy hoofsetel in Mahikeng.

Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, wil dit voorkom asof Delareyville se waterprobleme direk gekoppel kan word aan die distriksmunisipaliteit se onkunde en wanbestuur. Die Geysdorp-pyplyn, wat water aan die Delareyville-reservoir moet lewer, bars bykans elke week en geen poging word aangewend om die oorsaak hiervan op te los nie.

“Toegang tot water is ’n grondwetlike reg en daarom moet daar nou druk op die munisipaliteit geplaas word om te verseker dat Delareyville voorsien word van water. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners van Delareyville daagliks sonder water moet sit en dít as gevolg van wanbestuur en swak instandhouding deur die munisipaliteit. AfriForum eis dat hierdie probleem dringende aandag geniet en dat die munisipale bestuurder hiervoor verantwoordelikheid neem. AfriForum sal die kwessie moniteer en indien nodig verdere regstappe doen om hierdie blatante skending van menseregte te takel,” verduidelik Nel.

In sy skrywe aan die distriksmunisipaliteit het AfriForum voorts ook ’n dringende vergadering met die distriks- en plaaslike munisipaliteit sowel as ander rolspelers oor die waterkrisis versoek. Verder eis AfriForum dat die spesifikasies van die Geysdorp-pyplyn en -pompe beskikbaar gemaak word aan AfriForum sodat bepaal kan word of die regte pype en pompe gebruik word en of die gehalte daarvan na wense is.

Die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit het nou tot môre (Woensdag 13 Desember) om op AfriForum se eise te reageer.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en maak ’n verskil in jou gemeenskap. Kontak Jp Nel by jp.nel@afriforum.co.za of besoek gerus AfriForum se Facebook-blad.

Soortgelyke plasings