|

Witrivier-buurtwag: Nuwe kaart in raadsaal van plaaslike polisie bevorder veiligheid

AfriForum se Witrivier-buurtwag het op Woensdag 9 November ’n gedetailleerde kaart van die omgewing in die Witrivier-polisiekantoor se raadsaal opgehang. Dié kaart bevat omvattende inligting van die omgewing en dui die hoofroetes aan. Die kaart is opgehang om die polisie met gebeurlikheidsbeplanning te help en om tydens operasies duidelike inligting op die kaart aan te dui.

“Uit samewerking met die plaaslike polisie het ons agtergekom dat daar ’n behoorlike kaart in die polisiekantoor ontbreek, iets wat dit moeilik maak om operasies te beplan en uit te voer. Daarom het ons die kaart opgehang om die polisie by te staan sodat hulle dit as ’n hulpbron kan gebruik om misdadigers die hoof te bied,” sê Dawie Ruthven, voorsitter van die Witrivier-tak.

“Hierdie projek is net weereens ’n bewys dat buurtwagte wat aktief in hulle gemeenskappe betrokke is ’n daadwerklike verskil kan maak, hierdie kaart gaan beplanning vir die plaaslike SAPS en AfriForum se Witrivier-buurtwag aansienlik vergemaklik, aangesien geografiese inligting wat ontvang word maklik en vinnig op die kaart aangedui kan word, wat weer help om vinnige en akkurate inligting aan alle veiligheidrolspelers te verskaf,” sê Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Witrivier-buurtwag nooi lede van die publiek uit om deel te word van die projek om sodoende die veiligheid van die Witrivier-area te verseker.

Soortgelyke plasings